Editor's choice

Flopsport

Verbeeldingryke mense op ons dorp. Kry verlede week verjaardaggeskenke: Smarties!, drinkgoed van soetgoed tot duur goed, biltong, koppies en die CRtjies stuur kussingslope.

Op die een is geborduur: “Meneer Flopsport” en op die ander “Soet drome”. Selfs Mevrou het een gekry. Op hare staan: “Mevrou Floploos”. (Vandat Mevrou op daai sloop slaap…).

•Skerp! Vra iemand: “Mag die Pukke die Duitse sokkerspan ondersteun?”

•Asssseblieff…! Frans Ludeke sê die Bulle het ervaring gekort in die Superreeks. Frans, my liewe ou mater, die Lions het met Tuks se Varsity span van ‘n paar jaar terug gespeel sonder leiers, sonder ervaring en hulle het ‘n skitterende seisoen gehad.

(Die Bulle het net twee leiers gekort – Johan Ackerman en Cois de Bruyn of dalk net een: Jimmy Stonehouse).

•Matfield sê weer die ondersteuners moet net geduldig wees. Todat jy finaal jou pensioen gevat het?

•Ag Bragtig, skuus, Pragtig! Proteas, julle ysters!

*Cravenweek 2014, HTS Middelburg, 14 Julie – 19 Julie:

•Sondagaand het die burgemeester vir gaste ‘n ete in die banketsaal aangebied. Op die spyskaart was lekker rys, pap (Stywe pap), soetwortels, sagte beesvleis, krummelhoender en marog. (Besoekers het natuurlik gedink die marog is spinasie).

•Groot Floppie Maandagaand op Super rugby, die Flop was groot en die ou wat die Flop gemaak het nog groter. Kobus Wiese sê heeltyd op televisie: “Die Cravenweek wat op Witbank aangebied word”.

Na ‘n oorskakeling na Middelburg! borduur hy verder “die Cravenweek vanjaar op Witbank”. (Wiesê, die man het nie dalk te veel van daai koffie gedrink nie?) (Maar koffie maak mens tog wakker, nie vaak nie? Witbank bestaan lankal nie meer nie! En die Cravenweek word by HTS Middelburg aangebied Oom Kobus).

•Nog ‘n program het later te vertelle die Cravenweek word by Middelburg Hoërskool aangebied. (As Dolf jou moet hoor!).

•Nog ‘n Super Floppie deur SupaRugby wat op sy webblad skryf: “Poerie van Rooyen rig die Pumas vanjaar dalk die laaste keer af, maar hy en sy troepe het die Kapenaars ‘n ding of twee gewys”.

Poerie rig die Pumas die laaste twee jaar nie meer af nie. Die man wie se hare al minder word is Gert, Gert van der Westhuizen, of soos ons hom hier ken, sommer Coach of Chef, die ou wat die lekker kos maak by die Hoërskool, Hoërskool Middelburg.

•Hoe lekker het die hiënas net nie gelag by uBhetyan-o-africa wildsplaas nie! Hulle kon net nie uitgelag raak oor die snaakse ouens wat so spring en hol nie. (Die ouens is natuurlik die Puma Cravenweekspan wat ver van alles by die eksklusiewe plaas gaan bly en oefen het).

•Stuur ons mees onverskrokke joernalis, Johannes Gresse, Maandag by die HTS pawiljoen se dak op om ‘n foto van die terrein te neem.

Probleem is net, die man is banger vir hoogtes as ‘n bobbejaan vir ‘n skerpioen.

Om tot bo te kom was maklik. Maar toe bel hy: “Ek kan nie hier afkom nie, ek is bang!” Sien al vergesigte van loeiende sirenes,’n lang brandweerleer, ‘n sterk brandweerman wat hom soos ‘n sak aartappels oor die skouers gooi en heldhaftig die trappe af dra…ten aanskoue van al SuperSport se kykers.

Gelukkig daag ‘n kwaai ou van SuperSport op, wie se kameras op die dak staan, met die opdrag: “Klim van ons dak af!” Siende ‘n gehoorsame seun is hy bangeit en al, blitsig weer die dak af.

•Die Zimbabwe joernaliste wat Sondag op die dorp aangekom het, wou net oor twee dinge weet: “Die koue en ‘n cab”. Die klomp het in Kanonkop gebly en wou by die veld uitkom met ‘n cab en oor die koue van Middelburg het hulle oor die grens gehoor.

•Op die einde moes die Observer maar taxi speel vir die dankbare Zimbabwiërs.

•Die man met die regte van: Pappas. Dié vriendelike Gabriel Pappas was in beheer van die skeidsregters. Sy naam kon net sowel Pappa gewees het.

•Vanwaar dié Duif?

Karakters en karakters die week gesien. Andre Watson, Kevin de Klerk, Warren Broshnian, Rassie Erasmus, Rudolph Straueli, Dirkie Groenewald, Wynand Claassen, Gerrie Germishuys, ons eie Mark Lawrence, Willem Strauss, Lourens Campher en dan was daar Duif, Duif du Toit. Die man met sy kenmerkende poniestert is een van die land se beste sportfotograwe en was elke dag geduldig met sy monsterlens agter die pale.

•Dan was daar Jan Mot. Mot 20 jaar laas op Bethlehem gesien toe Laerskool Dennesig se rugbyspannetjie daarheen getoer het. Mot onthou dadelik. En jy onthou dadelik: Mot het sy naam gekry omdat hy altyd was daar waar ‘n liggie gebrand het. (Goeie dae!).

•Trotse toilette. “Klim!” sê Hendrik Swanepoel toe hy Sondag voor die ouditorium met sy gholfkarrtjie stop. “Klim, ek wil jou my toilette gaan wys”. En ons ry doééér tussen die baksteengeboue in.

Die deur swaai oop, Hendrik swaai sy linkerarm trots soos ‘n boer wat met sy mielie-oes spog: Daar is die toilette, Hendrik se toilette! Alles oorgedoen vir die Cravenweek, storte, glasdeure, pure casino perfek.

(Daar steek geen waarheid in die gerugte dat die koshuisbrakke nou ondervloerseverhitting, warm komberse en blommetjie duvets gaan kry nie).

•Daar was spesiale oomblikke by die Cravenweek maar die hoendervleis oomblikke was die Mpumalanga Jeugkoor se sing van die volkslied en die hoofmeisie, Shimony Maré, se pragtige opening.

•Teleurstelling van die week? Dat Thandi Modise, president Jacob Zuma, Julius Malema, ag sommer die hele parlement, nie by die week was nie. Dat hulle kon sien hoe eet, slaap en speel ons in vrede in hierdie land. Selfs Joe Mabena van die Onderwys Departement het Maandagaand in sy toespraak die wedersydse respek genoem.

Hy het liries geraak oor ‘n seun wat “Dankie Oom” vir ‘n senior gesê het wat vir hom ‘n bal aangegee het. Die Kapenaars het natuurlik laat waai met “Dankie Oem”. Respek, daarvan is baie gesien die week. (En het ons enige kleur genoem of gehoor? Nee, ons was almal maar net gelukkige Suid-Afrikaners).

(En as julle almal nou ons dorp Saterdag verlaat, wat moet ons Maandag doen?).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button