Local newsNews

Dorp groet legendariese skoenetannie

Een van Middelburg se legendes, die 93-jarige tannie Hantie Duvenhage, is Saterdag oorlede.

Daar word Donderdag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Sentraal van haar afskeid geneem.

Kobus Terblanche het voor haar dood by haar gaan kuier en vertel hier meer oor die merkwaardige en geliefde vrou…

•Me. Hantie Duvenhage is al 93 jaar oud, maar sy is ’n inspirasie vir almal daarbuite. Sy werk al vir 74 jaar in die familiebesigheid, Duvenhage Droogskoonmakers en Leerwerke.

Iets wat weer jou geloof in Homo Sapiens bevestig. Laat vergeet van die rotresies in die Malls van die wêreld.

Hier in Middelburg is my toevlug Duvenhage Droogskoonmakers en Leerwerke. Nie soseer die plek nie, maar die tannie daar agter die toonbank. Vir 74 jaar al.

Ontmoet haar, Johanna Elizabeth Duvenhage, nie by haar huis nie, nie in die ouetehuis nie, nee, in haar seun, Hans, se winkel.

Elke dag, vanaf die dag toe sy op 16 jaar in 1939 met Jan Duvenhage getroud is. Jan wat saam met sy pa as Bermuda krygsgevangene, sy loopbaan as skoenmaker begin het. By die bou van Loskopdam het hulle die werkers se skoene versool. Arm mense wat met pik en graaf vir hulle gesinne ’n lewe moes loskap.

Jan wat op 69 jaar dood is. Jan van wie sy kinders een ding onthou. Sy onkreukbare eerlikheid. Op ’n keer ’n kliënt te veel gevra vir ’n skoenversoling. In sy kar geklim en sestig kilometer Stoffberg toe gery om die saak reg te stel.

En omgee vir sy medemens. Hoe ’n kaalvoet boemelaar met ’n paar splinternuwe Buccaneers (’n bekende skoensoort van destyds) by Jan se winkel uit is.

Ook ander dinge. Sewe kinders grootmaak, laat leer, met skoene regmaak. Die erf kon koop waarop Midpark Sentrum vandag pryk.

Toe bly tannie Hantie agter. Drie van haar sewe kinders al oor die 70 jaar, 12 kleinkinders, 12 agterkleinkinders. Dokters, bankbestuurders, aptekers, bourekenaars. Dit terloops. Aan titels en sulke grend dinge steur sy haar nie veel nie.

Solank haar kinders gelukkig is en sy nog elke dag kan werk, is die wêreld reg. Die baie vakansiedae pla wel – dis nie lekker om ledig by die huis te sit nie!

Ook nie bang vir die dood nie. Het eerlik en opreg geleef en is gelukkig.

Sy glo haar saak is reg. En dalk, net dalk, daar in die hiernamaals, sal sy kan skoene regmaak.

Of dra Engeltjies nie skoene nie?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button