Kieries en wiele loop saam soos brood en jêm…
Die Middelburg SAVF Kieries en Wiele dag was 'n weergalmende sukses!
Die pretdag waarby motorfietsryers betrokke is, is deur Eddie en Nellie Pretorius van die motorfietsklub Driven by the Spirit begin, maar word deur al die plaaslike motorfietsklubs ondersteun.
Meer as 100 motorfietsryers het vanjaar deelgeneem aan die pretdag, wat verlede jaar sy bywoning ver oortref het.
Verlede jaar se inkomste van R25 000 vir die tehuis, is Saterdag ook gelig, en staan volgens die tehuis bestuurder, mnr. Johan Bosch, reeds op R28 000, met beloftes van nog meer.
Die geld word in ‘n spaarrekening inbetaal vir nuwe hospitaalbeddens vir die siekeboeg. ‘n Geraamde R500 000 word benodig vir die aankoop van beddens, sê mnr. Bosch.
Die hardebaard motorfietryers het vir groot opwinding onder die oues van dae gesorg.
Dié wat moed bymekaar kon skraap, het na afloop van die kroning van Mnr. Kierie en Me. Wiele, gewen deur me. Babs Jansen en mnr. Jan Greef, op ‘n massarit saam met die motorfietsryers, van die ouetehuis tot by die Mall gery, en terug.
Die biertent was oop voor hanekraai, maar gelukkig was daar talle heerlike kosstalletjies om die mae te olie.
Vermaak is deur talle plaaslike kunstenaars verskaf tot groot vermaak van die bejaardes.
Mnr. Bosch bedank almal wat dié spesiale dag so sukses gemaak het.
“Volgende jaar maak ons weer so!,” eggo hy die woorde van al die bejaardes wat 2016 se Kieries en Wiele dagjol bygewoon het.







