Afriforum staan terug vir munisipaliteit
Afriforum stu voort met sy landwye slaggatmaand, en die burgerregte organisasie sê hulle het reeds meer as 4833 slaggate reg gemaak, onder meer in Groblersdal, Standerton, Ermelo en eMalahleni.
In Middelburg is slaggate ook met rooi spuitverf gemerk, hoewel Afriforum nie hier geld in ploeg nie, omdat die munisipaliteit gerapporteerde slaggate volgens beleid, binne 48-uur herstel.
Voorts is die munisipaliteit ook besig met die herstel van sekere strate in Middelburg en Mhluzi.
Dié projek is onlangs van stapel gestuur om te verhoed dat ou paaie so verval, dat dit heeltemal oorgebou sal moet word.
Op 21 Mei het Afriforum reeds R721 000 in die landwye projek geploeg, en in Secunda stel die organisasie R150 000 beskikbaar vir die herstel van slaggate.
Die bedrag sal aangewend word om sowat 1926m² se slaggate daar te herstel.
Die inisiatief, is een van die projekte wat AfriForum as deel van die organisasie se #selfdoen-inisiatief geloods het, en vorm deel van hulle nasionale slaggatmaand wat op 9 Mei 2016 afgeskop het.
Gedurende dié maand sal daar in Limpopo en Mpumalanga alleenlik R1,2 miljoen spandeer word om slaggate herstel.
Dié onkostes sal daarna van die betrokke munisipaliteite verhaal word, wat nie die projekte in samewerking met AfriForum gedoen het nie.
“Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het vanoggend sy padbouspan aan AfriForum beskikbaar gestel om ons te help om die slaggate te herstel,” het me. Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder van Mpumalanga-Wes, gesê.
“Ons is opgewonde oor die gesindheid van die Secunda munisipaliteit om hierdie projek in samewerking met AfriForum te doen. Hierdie stap verseker ‘n goeie samewerkingsverhouding tussen ons en die plaaslike owerheid,” sê mnr. Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga en Limpopo.
In Middelburg het mnr. Riaan Botha leiding geneem met die merk van slaggate.
Volgens mnr. Gonzales, gee Afriforum die Steve Tshwete Munisipaliteit kans om sy 48-uur beleid na te kom, alvorens die organisasie self sal inspring om die gemerkte slaggate te herstel.
“Ons is bewus dat die munisipaliteit nog nie die gemerkte slaggate herstel het nie, en ons sal nou begin beplan om die slaggate self te herstel, en die munisipaliteit later te dagvaar vir die kostes,” het hy Maandag gesê.
Die munisipaliteit sê al die gemerkte slaggate is aangemeld, en herstelwerk sal soos normaal geskied.



