‘Hy moes geknak het’
Die man wat Vrydag nog vir haar gewerk en die naweek sy kinders na bewering vermoor het, is twéé verskillende mense!
Me. Ria Roets glo dat Jabulani Mahlangu ‘geknak’ het om tot so ‘n daad oor te gaan.
“Ek het afgegaan op my knieë van skok toe ek die nuus hoor!” sê sy hartseer. Jabulani was die afgelope 13 jaar haar regterhand en was welbekend by haar vriendinne by die Vrouelandbou Unie, wie se rose hy ook gesnoei het. Jabu het ook die rose van die Bethesda Huis van Hoop en die Hospicevereniging gesnoei.
“Jabu was ‘n getroue werker en nooit ‘n dag afwesig nie! ”
Me. Roets sê Jabu was haar regterhand. Buiten tuinwerk, was hy ‘n bekwame nutsman wat allerlei werkies van teël- tot herstelwerk in en om hul huis, asook by die meenthuise wat sy uitverhuur, gedoen het.
Hy het altyd sag en met respek met hulle gepraat. “Ek kan nie sleg praat oor hom in die tyd wat hy vir ons gewerk het nie, want hy was ‘n dierbare mens. Hy was nooit aggressief of ongeskik nie en het ‘n aangename persoonlikheid gehad.”
Me. Roets onthou dat Jabu die afgelope paar dae met sy hande beduie het, terwyl hy na musiek geluister het op sy oorfone. Sy het aangeneem dat hy na musiek luister en saamsing.
Jabu se tannie, Tryphina Mnguni (wat al 30 jaar vir me. Roets werk), het egter vir haar gesê dat hy met homself praat. “Dit voel so onwerklik. Hy moes ‘n verskriklike wroeging gehad het. As hy net gepráát het, kon ons hom vir sielkundige hulp gestuur het!”
Lees die vorige berig hier:
Me. Roets vertel dat hy “nog Vrydag saam met my gery om werk te gaan doen en was baie bly oor die ekstra geldjie wat ek vir hom gegee het. Hy het gesê hy gaan KFC vir die kinders koop!
Wat haar wakker hou in die nagte, is die kinders se gesiggies. “Thandi het ook vir ses jaar vir my gewerk en sy het hulle vir my kom wys. Ons het nooit geweet dat sy en Jabu ‘n verhouding gehad het nie. Nie een van hulle het ooit iets gesê nie!”
• Thandeka werk tans vir me. Roets se seun, Zack.
• Me. Roets betaal die hele begrafnis van die Mahlangu kinders.



