Local newsNews

Vier musketiers ruik al amper die see

Dit gaan baie goed met die vier musketiers van die Walk for Johlene-projek en hulle ruik al amper die see.

“Ons is steeds baie positief en die gees is nog al die pad uitstekend, maar die teerpad kou ons voete bietjie,” vertel lt.kol. Anton Crafford.

Hulle het ongeveer 233 km oor en die pad vanaf Laingsburg na Matjiesfontein was Sondag swaar omdat hulle die heeltyd in die reën gestap het.

“Asof die reën nie erg genoeg was nie, het die vragmotors ons ook nog natgespat, maar ons het dit verduur.”

Lt.kol. Crafford sê dat hulle baie dankbaar is oor die R22 000 wat hulle reeds ingesamel het.

“Die SAPD se Onluste-eenheid in Middelburg het R1 000 aan die projek geskenk en daar is twee persone wat elk R5 000 inbetaal sodra ons klaarmaak. Ons is opreg dankbaar vir al die skenkings.”

Volgens lt.kol. Crafford is dit opvallend hoe vuil ons land se paaie is.

“Mens sien dit nie as jy in jou motor ry nie, maar die paaie is werklik vol gemors – van babadoeke tot klere tot bottels.”

Vir lt.kol. Crafford is die staptog ’n geestelike verdieping en die stukkie wat hy vir klein Wiehan Botes gestap het, het hom kans gegee om weer deur die gebeurtenis van 2012 te worstel.

“Ek sal dit nooit vergeet nie en dit sal steeds altyd by my bly, maar die stap doen my goed. Ek het dit gedoen vir sy ouers en ek kry sommer hoendervleis as ek dink hoe dankbaar hulle is omdat ek vir klein Wiehan stap.”

Die manne is nou gereed vir die laaste paar kilo’s en sê hulle is geseënd al pyn hulle lywe so effens.

“Ons is nou so fiks, ons moet bietjie terughou anders is ons te vroeg in die Kaap!” lag lt.kol. Crafford.

Die manne se staproete vir dié week lyk soos volg:

Maandag, 18 April 2016 – Rusdag

Dinsdag, 19 April 2016 – begin van voor Matjiesfontein en stap 40 km tot 30 km anderkant Matjiesfontein

Woensdag, 20 April 2016 – begin van anderkant Matjiesfontein en stap 37 km tot 17 km anderkant Touws Rivier

Donderdag, 21 April 2016 – begin van anderkant Touws Rivier en stap 34 km tot 10 km anderkant De Doorns

Vrydag, 22 April 2016 – begin van anderkant De Doorns en stap 32 km tot 10 km anderkant Worcester

Saterdag, 23 April 2016 – begin van anderkant Worcester en stap 24 km tot by die Huguenot Tonnel

Sondag, 24 April 2016 – begin by die Huguenot Tonnel en stap 39,8 km tot by Kraaifontein

• Besoek gerus hulle Facebookblad, ‘Walk for Johlene – Bloemfontein to Cape Town’, om hulle projek te volg en ondersteun of donasies te maak wat direk aan Kansa sal gaan.

Lees vorige stories hier:

Walk for Johlene-projek verloop nog vlot

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button