Local newsNews

1 000 km vir R 100 000

Bekende afgetrede polisieman van Middelburg, lt.kol. Anton Crafford (58), pak die pad van Bloemfontein na Kaapstad om geld in te samel vir die Kankervereniging en ’n jong misdaadslagoffer.

Hy stap vir die volgende vier weke saam met lt.kol. Deon van der Merwe (58) en adjudant offisier Swannie Swanepoel (48), terwyl afgetrede kol. Hannes Wentzel, die ondersteuningsvoertuig bestuur.

“Ons wil graag R100 000 aan Kansa oorhandig aan die einde van ons staptog. Die geld kom maar stadig in, maar ons is baie positief en het selfs R5 000 van ’n oud-Suid-Afrikaanse polisieman uit Saudi Arabië gekry.”

Lt.kol. van der Merwe het met die projek, Walk for Johlene, vorendag gekom nadat hy sy vrou, wat ook ’n polisievrou was, aan kanker afgestaan het toe sy haar 20 jare lange stryd verloor het.

“Ek het dadelik ingestem toe Deon my vra om deel te wees van hierdie wonderlike inisiatief. Daar is veral drie redes waarom ek sonder twyfel ingestem het: eerstens vir Deon se vrou, Johlene, tweedens omdat ek my pa ook aan kanker afgestaan het en derdens vir Wiehan Botes.”

Lt.kol. Crafford het in 2012 vir Wiehan Botes, ’n vyfmaande oue baba wat in Delmas vermoor is, uit die huis gedra, waarin hy vermoor is, na die lykswa om eer aan hom te betoon.

“Ek was op daardie saak en die stuk tussen Beaufort-Wes en Laingsburg stap ek vir Wiehan.”

Die manne het Dinsdagoggend 07:30 die eerste tree uit Bloemfontein gegee en het die aand, 38,9 km later, oorgeslaap by die Tierpoortdam.

“Ons stap meestal al met die N1 langs tot ons die Kaap, 1 000 km verder, bereik. Woensdag het ons op Edenburg oornag, Donderdag op Trompsburg en Vrydagaand slaap ons op Springfontein.”

Op Dinsdag, 26 April, behoort die manne in die Kaap aan te kom nadat hulle ’n gemiddeld van 37 km elke dag gestap het.

“Die mense by die huis moet maar sterk staan tot ons terug is. Ons gesels die heeltyd en praat klomp nonsens,” lag Lt.kol. Crafford.

Terwyl die manne stap, peusel hulle die heeltyd aan verskeie happies soos droëvrugte, biltong, droëwors en piesangs.

“Ons drink baie water en eet groot in die oggende en aande sodat ons genoeg energie kan inneem en nie dehidreer nie.”

Tot dusver het niemand nog blase nie, maar hulle is gereed om dit te behandel en het die nodige mediese sorg indien so iets sou voorval.

“Ek het die eerste aand die swaarste gekry. Die mense by wie ons oornag, is baie gaaf en gasvry. Hulle het my in hulle borrelbad laat lê om bietjie die seer spiere te ontspan. Ons is baie dankbaar vir almal wat so goed is vir ons.”

Die gemeenskap is baie trots op hierdie legendariese oudpolisieman wat wys dat hy sy hart op die regte plek sit.

“Ek is maar net ’n doodgewone, normale mens. ’n Pensionaris wat my werk voluit gedoen het en my kant probeer bring het. Ek mis wel vir Middelburg en sy mense.”

Indien enige iemand wil skenkings maak en hierdie projek ondersteun, kan hulle dit in die volgende rekening inbetaal:

BANK: ABSA

TAK: PRELLER PLEIN, BLOEMFONTEIN

TAKKODE: 632005

VERWYSING: WALK FOR JOHLENE CLUB

REKENINGNOMMER: 931 617 9114

“Ons wil graag ook weet wie die skenkings gedoen het sodat ons persoonlik vir elke skenker op die naam kan dankie sê.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button