Local newsNews

Nuwe ontwikkeling gee dorp hupstoot

Te midde van die ekonomiese storm waarin Suid-Afrika tans is, is daar tog gemeenskapslede in Middelburg wat wil terugploeg in die dorp.

Wesstraat is een van geleenthede wat op beleggers se pad gekom het en tans ‘n gedaanteverwisseling ondergaan danksy die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) wat voortaan sy administratiewe kantore na die ou Ginelli’s-gebou sal skuif.

“Die aanvanklike motivering vir die skuif was om die bloedbank te sentraliseer sodat die operasionele en administrasie geboue op een plek is. Ons het egter gou besef dat hierdie skuif ook ‘n positiewe invloed op die besighede in die omgewing sal hê,” sê mnr. Eugene Ehlers, direkteur van Lomina Elf wat die ou Ginelli’s-gebou al 15 jaar besit.

Volgens mnr. Ehlers, was hierdie deel van die dorp altyd dié plek om te wees, maar met die koms van die Middelburg Mall, het dinge vinnig agteruitgegaan en besighede het weggetrek.

“Ons glo hier sal nou meer voete vir besighede wees, veral met Pick ‘n Pay wat ook nou ‘n nuwe eienaar het, behoort daar nóg meer ontwikkeling te wees.”

Die hele ontwikkeling is 960 m² en daar is nou ‘n hele lyn van besighede wat beplan om die area te stimuleer.

“Doves het reeds na ‘n ander gebou, net om die draai, geskuif en is nou op die hoek van Wes- en Joubertstraat. Die stadsraad beplan ook om die Van Blerk-plein op te gradeer en Midmed Hospitaal is ook besig om te vergroot wat dié area ook ‘n hupstoot sal gee.”

Cashbuild bring ook nou verbeterings aan en selfs die woonstelblok-eienaar, net oorkant die ou Ginelli’s-gebou, sal nou meer mense kan lok aangesien daar nie lawaai sal wees nie omdat dit nou ‘n kantoor atmosfeer sal hê.

Mnr. Ehlers sê dat hierdie area gered moet word.

“Hoewel dit tans in hierdie swaar ekonomiese tye nie noodwendig die beste belegging is nie, wil ons die besighede in hierdie omgewing laat floreer. Ons as gemeenskapslede bring ons kant en verwag nou van die stadsraad en polisie om hulle kant te bring deur misdaad in hierdie omgewing te bekamp en alles in stand te hou.”

Volgens mnr. Obed Monoyane, die tegniese sone bestuurder van SANBS in Mpumalanga, sal hierdie nuwe ontwikkeling beslis meer voete na hierdie area bring.

“Die personeel sal almal nou hier rapporteer en hier is potensiaal vir groot dinge om te gebeur. Al die ontwikkelings rondom die gebied was deel van ons besluit om juis ons kantore hier te sentraliseer.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button