‘n Vrou, wat gevra het sy moet anoniem bly, het die Middelburg Observer kantoor besoek en gesê dat “Mandy die koerant misbruik tot haar eie voordeel” en dat die skenkings wat gemaak word, “nié by die regte mense uitkom nie.”
Van die bewerings is:
• Volgens haar gebruik Mandy ‘n “skuilnaam” en is haar regte name Francina Wilhelmina Jacoba Pretorius.
• Dat die kerke vir haar geld gegee het wat sy nie vir die projek gebruik nie.
• Dat “Amos” (sy weet nie wat sy van is nie), van Feed A Child, vir Mandy geld gee wanneer hy klerasie by haar gaan haal.
• Dat daar geld vir die waterprojek (wat tans landwyd van stapel gestuur word – berig elders) aan Mandy oorhandig is, wat sy nie vir die projek gegee het nie.
• Sy het ook gesê dat verskeie mense al vir haar geld gegee het vir die Omgeeprojek, maar dat dit nie aangewend word vir die projek nie. “Sy verryk haarself daarmee.”
• Dat me. Pretorius die beste skenkings vir haarself hou en “die gemufte brood vir die armes gee.”
• Me. Lisa Smith (van die Give & Care-projek) het by haar aangesluit en ook sekere aannames gemaak oor me. Pretorius.
Sy het voorheen in ‘n tent op me. Pretorius se erf gebly en het haar eie projek, Give & Care (byna soortgelyk as dié van me. Pretorius), begin.
Volgens me. Smith het me. Pretorius by haar geld geleen terwyl sy daar gebly het, wat tot op hede nie terugbetaal is nie. Sy het verder gevra “as Mandy so sukkel en haar man haar met ‘niks’ agtergelaat het nie. Met watter geld betaal sy haar huishuur? Waarmee betaal sy petrol en ander uitgawes?”
Me. Smith beweer verder dat me. Pretorius skenkings laat ophoop en “nie alles uitgee vir die armes wat inkom nie. Anders as my projek, waar ek álles uitgee wat vir die arm mense geskenk word!”
Op ‘n vraag aan me. Smith of sy gesien het dat verteenwoordigers van kerke of ander mense geld aan me. Pretorius gee, het sy gesê “my woord is my eer. Ek het nooit gesien dat iemand van ‘n kerk vir haar geld gee nie. Al wat ek van weet is van ‘Amos’ wat R200 ‘n sak klere betaal en dat rdl. Rehana Pilodia vir Mandy in ‘n koevert R360 gegee het nadat Mandy se man, Wikus, gesterf het. Iemand het ook vir haar die begrafnis betaal.”
• Me. Pretorius se kommentaar en ander betrokke organisasies en kerke se kommentaar verskyn elders.



