Local newsNews

Oupa Jan se Gift

Twee wit gesinne het Woensdag hul swart aanneemkinders by skole in Middelburg ingeskryf.

Beide mans is boere en beide Afrikaans. Wat hulle nog in gemeen het is hul liefde vir die Here, en die toorn van rassiste.

Mnr. Jan de Beer, ‘n stoere Afrikaner boer van 73-jaar, se “aanneemseun” Gift, het trots op sy “oupa” se skoot gesit Woensdag in Laerskool Dennesig se skoolsaal, waar hoof, mnr. Hannes Brits, die nuwelinge verwelkom het.

Mnr. De Beer sê Gift was net ses weke oud toe sy ouma, Selina, met hom by hulle huis in Steve Bikostraat opdaag.

“Sy ma was werkloos en Selina moes vir hom sorg, haar ultimatum was dat sy hom of saambring, of tuis in Doornkop grootmaak,” sê me. Elmaleine de Beer.

“Sy werk al 25-jaar vir ons, sy’s my suster, daar was geen keuse om te maak nie.”

Sedertdien slaap beide Selina en Gift by Jan en Elmaleine in die huis, en soms skrop Gift selfs nes tussen die paartjie in hul bed.

Die De Beers betaal alles vir Gift, van skoolfonds en mediese dekking tot kos en klere, maar hul liefde vir hom is die grootste geskenk.

“Ons weet dat Gift ‘n verskil in ander se lewens gaan maak, omdat ons ‘n verskil in sy lewe gemaak het,” sê Elmaleine.

“Ja ons kry kyke en daar word opmerkings gemaak, maar hy is ons seun en baie manne het al met rooi gesigte moes wegloop want ek sit hulle op hul plekke,” sê mnr. De Beer.

“Maar dis nie almal nie, toe ons nou op vakansie was het ons wel ‘n kykie of twee gekry van manne met groot baarde, tot hulle gehoor het Gift praat Afrikaans, toe wil ons net gesels.” By die Gereformeerde kerk waar Gift saam met hulle kerk toe gaan, lyk dinge baie anders en word die bulletjie met ope arms verwelkom.

Hulle het hom wel in ‘n Engelse klassie ingeskryf sodat hy drietalig kan wees, “hy praat Zoeloe, Afrikaans en nou gaan hy ook Engels baasraak,” verduidelik Elmaleine terwyl mnr. De Beer sit en hande vryf vir sy eerste Graad 1 oueraand.

• Danie Venter, Afrikaner krokodilboer, het Woensdag ook sy seun, Joshua, by sy nuwe skool, Laerskool C.R Swart, gaan inskryf.

Danie en sy vrou Rosemarie het klein Joshua op 18-maande met behulp van Umephi Babahuis aangeneem.
Die Venters is beleidende Christene en hul familiefoto’s op Facebook spreek van die onvoorwaardelike liefde wat hulle vir hul twee seuns het.

“Hy praat Afrikaans en is in ‘n Afrikaanse klassie,” sê Rosemarie oor haar “grootseun”.

In ‘n hartroerende Facebook plasing het sy Woensdag geskryf: “Wat ‘n voorreg is dit, dankie Jesus Christus dat ons hierdie bulletjie van ons vandag grootskool toe kan vat, dankie vir wie hy is en dat hy elke dag U vir die wêreld sal wys, dankie dat U sy paaie gelykmaak en dat Vader hom lei in als wat hy gaan aanpak. Ek staan verwonder en kyk na Joshua en sien Vader lig wat deur hom skyn elke dag”.

Racist? Get over it!

5 Stupid Responses to Interracial Love

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button