Dorp omgedop deur storm
Die verwoede storm wat Maandagaand die dorp getref het, het erge skade regoor die dorp aangerig.
By Middelburg Dam het kampers se tente omtrent 800m ver weggewaai en talle gazebo’s is gebreek.
Me. Susan du Plessis sê dat sy en haar gesin by die Middelburg Dam gaan kamp het en dat die groot ou boom, wat al die jare langs die dam staan, in twee geskeur het.
“Die ergste is die elektriese golf wat op die grond onder deur ons karavaan gekom het en ons hond en kinders geskok het. Die hond het getjank en die kinders het ook gehuil. Gelukkig is niemand darem beseer nie.”
Daar het ook ‘n groot boom by die gholfbaan omgeval sê me. Vicky Shrives en me. Chantell Phillips sê haar ouma se muur het ook ingegee.
Veral Mineralia het woes deurgeloop en Mhluzi is omtrent die enigste gebied wat nie deur die storm omgekeer is nie.
Buiten vir woongebiede wat geraak is, is talle besighede en skole ook getref.
Welgro Engineering het minimale skade opgedoen en volgens me. Suzanne du Preez, persoonlike assistent by die besigheid, het hulle reeds die skade herstel en is hulle gelukkig om nie te veel skade op te gedoen het nie.
Versekeringsmaatskappye gaan deur ‘n rowwe tyd en word oorlaai met werk – veral met dié dat daar drie weke terug ook ‘n haelstorm was.
Die dorp se mense het egter gewys dat hulle kan saamstaan en behalwe vir die radiogroepe, het die brandweer en polisie ook hulle hande vol gehad die week. Selfs die honde-eenheid is ingespan toe daar gerugte was dat daar ‘n voertuig in die rivier beland het. Dit was egter nie waar nie.
Die gemeenskap wil graag hulle dank uitspreek teenoor die Steve Tshwete Munisipaliteit wat die hele week sigbaar was en verwoed gewerk het om die dorp op te ruim.
Elke ander gemeenskapslid wat ingespring en gehelp het waar nodig is, word ook bedank.









