Veloorplantings na Mbidi jagluiperd vrou byt
’n Vrou is Sondag deur ’n jagluiperd aangeval by Mbidi Lodge, waar ’n mannetjies leeu ook op 20 November uit sy kamp ontsnap het.
Me. Tanya Swanepoel is Woensdag uit die Life Midmed Hospitaal ontslaan waar die bytwonde met talle steke en krammetjies geheg is.
Sy sal Maandag weer opgeneem word vir veloorplantings op haar been waar die jagluiperd haar beetgekry het.
Sy het Woensdag met die Observer oor die aanval gesels, en hoewel sy sê sy besef daar is altyd risiko’s verbonde aan menslike interaksie met wilde diere, sy tog voel Mbidi deels aanspreeklik is vir die aanval.
“Hulle het my nie oor sekere goed gewaarsku voor die aanval nie. Eers na die tyd is daar vasgestel hoekom die kat moontlik aangeval het,” sê me. Swanepoel.
Vroue wat op hul maandelikse siklus is, word aangeraai om uit die kampe te bly.
Me. Swanepoel sê sy was tussen 13:00 en 14:00 in die kamp saam Romeo en Juliet, ’n jagluiperdpaar wat gewild is onder besoekers.
Sy het by Romeo gesit toe hy haar skielik met sy kloue aan die been kap.
“Ek het opgestaan om te loop toe hy skielik sy tande in my been slaan,” sê me. Swanepoel.
Mbidi personeel het haar dadelik te hulp gesnel, maar Romeo wou nie los nie.
“Hulle het hom eers met water gespuit, en daarna sy snoet toegedruk, maar hy wou nie los nie,” sê me. Swanepoel wie se drie seuns van 8, 6 en 3, histeries staan en kyk het hoe personeel die kat van hul ma probeer afkry.
“Een van die personeellede het ’n brandblusser gegryp en Romeo daarmee gespuit, waarna hy laat los het.”
Sy sê sy sal nie weer haar voete in ’n wilde dier se hok sit nie. “Ek is geheel en al genees van wilde diere, ek wil nie eens meer olifant ry nie.”
Mbidi se eienaar, die Limpopo prokureur, mnr. Willie Fourie, is genader vir kommentaar, maar het teen druktyd nie op versoeke gereageer nie.
Riemtelegramme het gou begin loop dat die leeu iemand aangeval het. Die lodge het egter ontken dat enige iemand in gevaar was.
Nadat Zondor gepyl is, is hy teruggesit in sy hok sonder enige voorval.
Hy het glo teen die hek van die kamp gespring en die haak waarin die slot pas, gebuig, wat die hek laat oopspring het.




