‘Gesigte’ in wolke
Gesigte in wolke is die afgelope paar maande deur inwoners afgeneem.
•Me. Rolandi Smit vertel dat sy sowat twee weke gelede vanaf hul huis in Hexrivierstraat ‘n massa wolke in die lug gesien het en besef het sy sien ‘n spesifieke vorm, maar kon nie dadelik haar vinger daarop lê nie.
Sy het haar man, Pieter, gevra om ‘n foto te neem sodat hulle dit kan bestudeer.
Toe hulle die foto vergroot, kon ‘n mens duidelik ‘n persoon met ‘n tulband uitmaak, wat lyk of hy op iets, soos ‘n ramshoring blaas.
Sy het die foto vir mnr. Hein van der Berg gaan wys.
Volgens mnr. Van der Berg is hierdie foto ‘n duidelike bewys van die eindtye waarvan in die Bybel in Joël 2:27-28 en Handelinge 2:17 melding gemaak word.
“In hierdie teksverse word duidelik gesê dat mense in die laaste dae gesigte sal sien en drome sal droom. Die gesig in die foto van mnr. Smit is ‘n Joodse gesig met die tulband op sy kop. Onthou, Israel is die aankondiger van Jesus se koms.”
Mnr. Van der Berg sê hyself het in die laaste paar maande twee bevestigings in die wolke gekry dat die aarde vanaf Amerika se kant af vernietig sal word.
“Ek het vir die Here vir ‘n teken gevra, waarop ek kort daarna in die wolke die piramide (‘n teken van Amerika) gesien het. Dit is geleidelik van bo tot onder uitgevee. ‘n Paar maande later het presies dieselfde wolke weer verskyn as ‘n bevestiging.”
By navraag aan ander gesinne, het hulle verskeie foto’s wat in die laaste jaar en weke deur Middelburgers geneem is, gekry.
Mnr. Johan Verster het ‘n wolkformasie wat vir hom mooi gelyk het afgeneem. Hy was later verstom toe hy dit vergroot en ‘n duidelike 25 in die wolke kon uitmaak.
Mnr. Van der Berg sê dat die foto’s nie uniek is nie, aangesien “miljoene mense regdeur die wêreld al tekens in die wolke gesien het.”
• Baie van die foto’s met die datums wanneer dit in ons dorp geneem is, is aan die Observer gestuur.
• Persone wat kommentaar wil lewer oor die berig, kan die woord wolke, gevolg deur die sms stuur na 37940. Sms’e kos R1.50 per sms.
Indien daar nog unieke foto’s van wolke in ons omgewing geneem is, kan hulle dit stuur na daleen@mobserver.co.za.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!





