Vroue klop deur tot deur vir juwele
Daar is weer vroue wat die rondgaan by huise om glo juwele te koop.

Me. Lanie du Plessis sê sy is op 9 Oktober uit haar huis geroep deur ‘n vrou by haar hek wat beweer dat hulle op versoek weer na Middelburg vanuit die Kaap gekom het om juwele te koop.
Volgens me. Du Plessis, loop die vrou rond met ‘n vreemde masjien wat sy beweer die juwele weeg en dan die presiese prys wat die juwele werd is uitspeel.
“Die spesifieke vrou het ‘n banksakkie by haar gehad waarin ek net R100 kon sien,” sê me. Du Plessis.
Sy sê die ander sakkie wat die vrou by haar gehad het het wel juwele in gehad, maar bloot twee oorbelle en drie armbande.
“Sy het aanhou roep by my hek tot ek uitgestap het,” sê me. Du Plessis.
Toe me. Du Plessis vir haar sê sy dra nie juwele nie, het die vrou aangedring op erfstukke.
“Ek het weer vir haar gesê dat ek nie waardevolle juwele het nie, waarna sy weg is na die bure se hek toe,” sê me. Du Plessis.
‘n Inwoner van Kanonkop, me. Bev Hibbert, sê ‘n vrou het sowat twee maande gelede ook voor haar hek in Impalastraat gestaan en roep.
Sy is gevra vir oortollige goud, maar sy het die vrou ook weggewys.
Verlede week het ‘n ander vrou voor haar hek kom staan vir dieselfde.
“Sy het vir my gesê die vorige besoeker was seker haar dogter,” sê me. Hibbert.
Me. Hibbert het opgemerk dat die vroue op en af in die straat loop, en huis tot huis aandoen.
Me. Du Plessis se man, Stiffie, het die voorval by die buurtpatrollie gerapporteer.
Die polisie se kommunikasiebeamptes kon nie bereik word vir kommentaar nie.



