Video: Jugomaro-katte weer in reggstryd gewikkel
Sowat vyftig mans het Woensdagmore kort voor 08:00 weer by Jugomaro Predator Park opgedaag, om die roofdiere, insluitende Bengaalse tiere, wit tiere, en Siberiese tiere, te verwyder.
Die Fernandes-familie is al maande in ’n regsstryd gewikkel om die plaas te behou, nadat finansiële probleme daar ingesluip het.
Dis die tweede maal dat ’n groot groep mans, insluitende SAP lede, Limpopo Natuurbewaring, en lede van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) by die park opdaag.
Mnr. Justin Fernandes sê dieselfde prokureur, wat vantevore daar opgedaag het, was weereens betrokke. Die eerste voorval het op 8 Julie plaasgevind, toe sowat twintig mans die park, wat die tuiste van die alombekende Panjo is, bestorm, die katte verdoof en in kratte agter op bakkies en waens gelaai het, op pad na Lichtenburg.
’n Boer van die area het glo die katte op ’n veiling gekoop.
Mnr. Fernandes het genoem dat hierdie boer reeds 400 ander katte het, en weet hy sal geld uit sy katte maak, omdat hul so goed versorg is.
“Die mans het hierdie keer by die plaas opgedaag met ’n veearts wat gereed gestaan het om die katte weer te verdoof en in kratte te laai, en ons familie van ons af te verwyder.
Die mans het geen dokumentasie by hul gehad nie, so ons het nie ’n idee wat hulle op ons plaas kom doen het, en hoekom hulle ons katte wil wegneem nie.
My ma is met pepersproei in die gesig gespuit toe sy ’n pylgeweer uit iemand se hande wou gryp, sodat hulle nie weer ons katte kan verdoof nie.
Gelukkig het die SAP lede wat teenwoordig was, die opdrag gegee dat geen diere verdoof mag word tensy ons regsverteenwoordiger ook teenwoordig is nie.
Volgens ons kennis het hul geen reg om ons katte te verwyder nie,” sê mnr. Fernandes.
’n Uitsettingsbevel wat glo nog in die hoogste hof van appel aangehoor moet word, is ook steeds deel van die familie se reggstryd.
Die katte is glo reeds in Maart deur Jugomaro likwidateurs aan die boer van Noordwes verkoop.
Die groep het omstreeks 12:00 van die plaas af begin onttrek.
Mnr. Piet Groenewald (WIPS), sê die rede hoekom almal onttrek het, is omdat dit te warm geraak het om die katte te verdoof, en die veearts gesê het dat dit ’n risiko sal wees.
Mnr. Groenewald het ook genoem dat die Fernandes-familie nie permitte het om die roofdiere op die plaas aan te hou nie, wat beteken dat hierdie diere onwettig op die plaas is.
“Ons het reeds drie jaar gelede al ons permitte aan natuurbewaring gegee, hulle het dit,” het mnr. Fernandes gesê.







