Beskuldigdes hoor Woensdag
Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle 'n plaasbestuurder naby Tonteldoos gemartel en vermoor het, sal Woensdag hoor of die uitwysings wat hulle gemaak het deur die hof aanvaar word.
Regter Lamprechts het Maandag versoek dat die staat en die verdediging argumente lewer of die uitwysings wat deur Papiki Mokwena en Eric Mtombeni gemaak is, deur die hof aanvaar of verwerp moet word.
Die versoek kom nadat die beskuldigdes aangedui het dat hulle regshulp soek maar dat daar nie dadelik daaraan aandag gegee is nie. Ten tye van Mokwena se uitwysing, ‘n dag later, is sy regte weer aan hom verduidelik, hierdie keer deur kol. Sakkie Louwrens. Hy het egter nie weer aangedui dat hy regshulp soek nie en het die uitwysings gedoen.
Die kwessie oor of die beskuldigdes hul regte verstaan het en of hul konstitusionele regte geskend is, is ter sprake. Die staat het aangevoer dat twee verskillende ondersoekbeamptes Mokwena se regte aan hom voorgelees het, en dat die beskuldigdes die dag met die uitwysings nie gevra het om regshulp nie. Die staat het ook gesê dat buiten vir die uitwysings daar ander bewysstukke en getuienis is wat die mans met die moord verbind.
Die verdediging het aangevoer dat die uitwysings in geheel uitgelaat moet word omdat dit dui op ‘n onregverdige verhoor en dat die oorblywende getuienis voor die hof omstanddigheidsgetuienis is en dat dit nie toegelaat mag word nie.
Die saak word Woensdag voortgesit.




