Local newsNews

Vlamme verswelg plase

Verwoestende brande, wat blyk asof hulle almal kwaadwillig aangesteek is, het derduisende rande se skade aangerig, in wat een boer beskryf het as 'n moderne weergawe van die destydse "Verskroeide-aarde beleid" tydens die Anglo-Boere oorlog.

Terwyl Middelburg inwoners langnaweek gehou het, het boere en brandweermanne Sondag geswoeg met brande wat duisende hektare verteer het.

‘n Vuur wat by die Somapepa woongebied begin het, het daarin geslaag om, aangejaag deur ‘n sterk wind, oor verskeie grondpaaie te spring en duisende hektare weiding, lande en bale te verteer.

Op die plaas van mnr. Jannie Grobler, naby Elandslaagte, moes werkers inderhaas klein kalfies uit die vlamme jaag. Inspeksie na die tyd het gewys dat hulle genadiglik geen beserings opgedoen het nie.

Die hele plaas van bykans 280 hektaar sowel as ongeveer 50 bale het af gebrand. Vlamme het tot teenaan twee huise op die plaas gebrand en is op die grasperk in die tuin doodgeslaan.

Op die buurplaas, Welgevonden, van mnr. Kobus Boshoff, is ‘n trop van 40 blesbokke en twee volstruise skoonveld nadat die hele plaas afgebrand het. Ook daar moes boere kliphard baklei om die huis van Jan en Estelle Oberholzer teen die vlamme te beskerm. Gedeeltes van die tuin het afgebrand.

Buiten vir die 350 hektaar weiding wat aangeplante weiding insluit, het daar ook 20 bale in die slag gebly.

By mnr. Tjaart Venter het daar bykans 600 hektaar afgebrand. ‘n Pomp en sleepwa is ook in die brand vernietig. Ten spyte daarvan bly mnr. Venter positief.

“My plaas is nou veilig. Ek het my vuurspuit afgelaai en my bakkie gewas. Die nuwe seisoen kom. Goeie goed kom weer. Binnekort is die gras weer groen en die beeste vet. My seëninge is nie hier op aarde nie, so ek is nie bitter nie.”

“Ons moet net vasbyt tot dit reën,” stem mnr. Frans Gunter saam, wat sowat 500 hektaar weiding en lande asook 350 bale verloor het.

“My hele plaas is weg. Al wat nie gebrand het nie is my huis en my vrou.”

Hy kon daarin slaag om sy beeste en skape te red deur hulle van die een brandende kamp tot by ‘n ander kamp, wat reeds gebrand het, te jaag.

Om sy diere deur die res van die Winter te kry, moet mnr. Gunter nou raap en skraap om bale in die hande te kry. Hy is vol lof vir sy medeboere. Een man het glo sowat 10 bale aan hom gegee, sonder om enige vergoeding te eis.

“Ek het nou ‘n goeie idee hoe die ou boere destyds moes voel met Milner se Verskroeide Aarde beleid.”

Alhoewel dit moeilik is om te bepaal, word daar geskat dat tot soveel as 5 000 hektaar in die slag gebly het.

‘n Boer, wat versoek het om anoniem te bly, sê dat hy erg omgekrap is nadat die brandweer een van sy plaaswerkers, wat saam met brandweermanne gery het omdat hulle nie die omgewing ken nie, in die donker langs die pad afgelaai het.

“Hy sê hulle het vir hom gesê dat daar geen huise in gevaar is nie en het hom toe sommer net daar afgelaai en weggery.”

• ‘n Paar kilometer daarvan, aan die anderkant van die teerpad, moes boere bontstaan toe daar Sondagmiddag skielik ‘n brand ontstaan. Die skuldiges, wat op heterdaad gevang is terwyl hulle in die veld loop en aansteek het, is laat gaan nadat dit duidelik was dat die polisie nie gaan uitkom om hulle te arresteer nie. Ook hier het bale en aangeplante weiding in die slag gebly.

• Nader aan Stoffberg is ‘n vuur op die plaas van mnr. Anton Botha aangesteek. Dit het verskeie werkershutte vernietig, asook ‘n vakansiehut by Ribokkloof van mnr. en me. Eugene en Riekie Pretorius. Niemand is in die brand beseer of dood nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button