Local newsNews

Lisensiepapiere ‘verskyn’ skielik

Lisensiepapiere het binne twee ure wonderbaarlik 'verskyn' nadat 'n kliënt uiters aggressief was.

“Die oggend toe ek daar was, sê hulle daar is nie papier nie en ek moet maar Hendrina toe gaan. Toe ek ‘n kabaal opskop, toe is daar skielik papier. Hoe gebeur dit?”

Mnr. Bere de Beer en verskeie ander inwoners het hulle Dinsdagoggend uitgespreek omdat daar nie papier beskikbaar was by die lisensiekantoor van die Steve Tshwete Munisipaliteit nie.

“En dan het sy die vermetelheid om vir my te vra hoekom het ek nie op die dag wat hy verval het gekom nie. Dit het niks met haar te doen nie. Ek het op die dag van die 21 grasietyd mos gekom!”

Mnr. De Beer sê toe hy sy lisensie hernieu, is hy meegedeel dat daar nie papier is nie.

“Sy het gesê ek moet maar Hendrina toe ry of twee tot drie weke wag. Toe ek vra of ek dan ‘n boete opgelê kan word, het sy ‘ja’ gesê! Ek het vir haar gesê dan sal mens dit maar in die hof moet gaan toets.”

Mnr. De Beer was nie tevrede nie en is na ‘n ander kantoor om te gaan kla. “Toe ek by ene Martha se kantoor is om te kla, toe sien ek hoe kry ‘n ander vrou haar lisensie. Ek het haar dadelik daaroor gekonfronteer en gesê ek gaan dit nie daar los nie. Dit is toe dat sy vir my sê ek moet 14:00 terugkom.”

Met sy terugkeer het hy sonder probleme sy lisensie gekry. “Die oggend was daar nie papier nie en wou sy hê ek moes Hendrina toe. Twee ure later was daar genoeg papier. Hoe verstaan jy dit?”

Ander kliënte was nie so gelukkig om meegedeel te word dat hulle die middag kon terugkeer nie.

• Me. Retha Moorcroft was dieselfde oggend daar, maar moes tevrede wees om sonder die lisensie huistoe te gaan.

Sy het haar misnoeë te kenne gegee in ‘n Facebookboodskap.

“Middelburgers, hoe kan ons stem vir dorp van die jaar, as jy nie eers by die lisensiekantore ‘n karlisensie kan gaan hernieu nie? Daar is alweer nie die papiere om dit op te druk nie. En dan sal die persoon voor by toonbank vir jou sê: ‘wat wil jy hê moet ek vir jou sê?’ toe ek vra wanneer gaan daar papier wees!”

Die lisensie verval einde Julie en dit is vir haar dogter se voertuig (wat tans in Pretoria is). Sy het gesê dat sy die lisensie voor die naweek moet hê, want haar dogter is dan tuis.

“Wie sê daar gaan papier wees voor die naweek? Dit was laasjaar presies dieselfde. Dit is pateties.”

• Me. Chemine van der Merwe het gesê dat haar dogter al vier maande vir haar voertuiglisensie wag. “Elke keer is daar iets verkeerd.”

• Me. Susan Otten het gemeld dat sy “nog nooit” slegte diens by die lisensiekantore ontvang het nie. “Slegs een keer bietjie lank gewag, maar ander kere was dit vinnig. Dit is baie beter as Secunda. Eintlik kla julle almal met die witbrood onder die arm. Gaan na ander dorpe toe en kyk of alles in orde is.”

• Mnr. Emmanuel Tshehla (kommunikasiebeampte, Steve Tshwete Munisipaliteit) het terugverwys na ‘n antwoord wat hy in Maart ook gegee het oor klagtes rakende die tekort aan papier.

Daarin is gemeld dat die lisensiedepartement dienste lewer namense die provinsiale departement. Daar word 64 vorms op ‘n dag vir leerlinglisensies uitgereik.

Oor die klagtes van tekort aan papier vir lisensiehernuwings is gesê dat die papier by die regerings drukkers in Pretoria gedoen word en die toekenning van die dokumente deur die provinsiale kantoor. Elke munisipaliteit kry slegs ‘n sekere hoeveelheid per keer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button