Opvolg: Stiefma is as kind gemolesteer
Een van die sleutelgetuies in 'n saak waar 'n ma en haar vriend van onsedelike dade beskuldig word, is self as kind gemolesteer en daar is hierdie week in die hof gesinspeel dat sy die kinders voorgepraat het.
Twee van die klagtes, waaronder verkragting, word teen die man ondersoek. Die ma self word van ‘n rits gruweldade beskuldig, nadat haar kinders, ‘n sewejarige seuntjie en 11-jarige dogter, na bewering vyf jaar gelede vir die stiefma vertel het wat by hul ma se huis gebeur as hulle daar gaan kuier het. (Beide se name word weerhou om die kinders te beskerm).
Die stiefma het skokgetuienis gelewer waarin gesê is dat die kinders onder meer gedwing is om na seksvideos van hul ma te kyk, dat die seun moes help om katte en honde te slag, dat sy ma die bloed dan drink en dat die ma na bewering hom vasgehou het as haar vriend hom verkrag.
Mnr. Bertus le Roux (oudstreekhoflanddros) tree namens die regshulpraad as regsverteenwoordiger van beskuldigde twee (die man) op.
Die stiefma het aan mnr. Le Roux erken dat sy as kind gemolesteer is. Hierop het mnr. Le Roux vir haar gesê: “Ek glo die seun en sy sussie is van die stories ingepraat deur u.”
Uit haar getuienis oor beweerde sataniese rituele en “iets” wat geluide gemaak en die dogters gekrap het, was mnr. Le Roux se kommentaar: “Ek wil nie ingaan op die beweerde goëlery nie. Ons dra maar almal boosheid rond en verbeel ons dinge wat nie is nie.”
Hy het vir die stiefma gevra of sy die grasserige hare wat na bewering op een van die kinders se beddens gekry is (ná die beweerde goëlery) gehou het, maar sy het gesê dat sy dit verbrand het.
Mnr. Le Roux het hom sterk uitgespreek oor getuienis van die stiefma dat sy verskeie kere by ‘n plaaslike maatskaplike werker was oor probleme met die seun (voordat hy aan haar die bewerings oor sy ma gemaak het).
“Ek en my kollega (die ma se regsverteenwoordiger) het gepraat oor die maatskaplike werker en dit verontrus ons dat die maatskaplike werker nie méér gedoen het aan die probleme nie.”
Hy het verder aan die stiefma gevra of sy weet dat die seun vier verskillende weergawes (aan onder meer die polisie, later ‘n forensiese maatskaplike werker en ook aan ‘n kenner van die okkulte) gegee het, van die beweerde voorvalle.
Die stiefma het verduidelik dat hy “seker aangeneem het hulle weet wat hy reeds vir die ander gesê het” en dat hy dan verder van ander voorvalle vertel het.
• Die ma se regsverteenwoordiger is ook van die regshulpraad en wil nie geïdentifiseer word nie. Hy het aan die stiefma gesê dat die bewerings wat sy gemaak het, nié gestaaf word deur die doktersverslag wat saamgestel is by die Middelburg Hospitaal nie. “Die J88 het gesê daar is geen sigbare beserings of trauma nie.”
Hy het verder gesê dat sekere datums wat die stiefma gegee het, nie ooreenstem met wat die ma (beskuldigde een) vir hom vertel het nie. Beskuldigde twee (die man) het op ‘n stadium by haar gebly en, volgens haar, het hy selfmoordneigings getoon. Sy het gesê dat sy nie haar kinders soontoe laat kom het, omdat sy hulle “nie daaraan wou blootstel nie.”
Die stiefma het gemeld dat die saak al vyf jaar sloer en dit onmoontlik is dat sy spesifieke datums en naweke sal kan onthou.
Beide die regsverteenwoordigers het dit aan die stiefma gestel dat sy daarop uit is om die kinders se ma “in ‘n slegte lig te stel”.
In antwoord hierop het sy gesê dat dit onwaar is. Volgens haar het sy, vóór die openbaarmakings deur die kinders, gereeld geskenkies vir die ma gekoop, namens die kinders en hulle aangespreek as hulle lelik van hul ma gepraat het. “Ek duld dit tot vandag nie dat hulle sleg praat van hul ma nie.”
• Tydens die hofverrigtinge is genoem dat die seun later ook gemolesteer is by ‘n privaatskool waar hy ‘n leerling was.
Seun (7) moes glo seksvideos kyk



