Local newsNews

Opvolg: Banier vir vriend

Net twee dae nadat ’n man gesterf en sy broerskind ernstig beseer is in ’n mikroligte vliegtuigongeluk, het sy vriend ook in ’n mikroligte vliegtuigongeluk gesterf.

Mnr. Walter de Lange (van Kempton Park) is Dinsdagaand omstreeks 17:30 opslag dood toe sy mikroligte vliegtuig kort nadat dit opgestyg het, by die Springs vliegveld neergestort het.

Hy het sekondes tevore nog ’n banier deur die lug getrek wat gesê het: “Rest in Peace Wynand” ter herinnering aan sy boesemvriend, Wynand Snyders, wat Sondag in ’n mikroligte vliegtuigongeluk buite Lephalale (Ellisras) gesterf het.

Die mediawoordvoerder, adj. Tommie Tomlinson, het gesê dat hy nie kommentaar wil lewer op bewerings dat die mikroligte vliegtuig in die toue van die banier verstrengel geraak en geval het nie. Hy het net die feit dat daar banier was, bevestig en dat die ongeluk deur burgerlugvaart ondersoek word.

Mnre. De Lange en Snyders was groot vriende en ook beide lede van die Ekurhuleni Skole Skutterspan.

Mikroligte vliegtuig stort neer

Mnr. Snyders en sy broerskind, Jannie Snyders (’n graad 10 leerling aan Hoërskool Ellisras) het Sondagoggend met mnr. Snyders se mikroligte vliegtuig gaan vlieg. Hy het opgestyg vanaf sy broer Jannie (snr) se plaas en kort daarna neergestort naby die Ditloung woongebied. Burgerlugvaart ondersoek nog die ongeluk.

Jannie (jnr) is met ernstige beserings in die Muelmed Hospitaal opgeneem. Sy suster, Magda Reyneke (van Middelburg) pendel elke dag vanaf Middelburg na Pretoria om haar broer en ouers, Jannie (snr) en Daleen, by te staan.

Volgens me. Reyneke is haar broer se een nier verwyder en is daar nog ’n dreineringspyp in sy long. Skanderings het gewys dat hy nie breinbeserings nie “en wag ons net dat hy wakker word.” Laat Woensdagmiddag het sy op Facebook gemeld dat hy self asemhaal en sy ledemate beweeg.

Teen druktyd het sy nog nie meer inligting gehad oor haar oom se begrafnisreëlings nie.

Sy het ook pas net verneem van die ongeluk waarin haar oom se vriend gesterf het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button