Ouers sien ongeluk gebeur
'n Man is voor die oë van sy geskokte ouers van sy motorfiets afgeslinger en deur 'n voertuig doodgery.
Mnr. Sors Zietsman (43) is Sondagmiddag omstreeks 15:30 dood, nadat hy van sy motorfiets afgeval en ‘n aankomende voertuig oor hom gery het. Mnr. Zietsman het voor sy ouers gery en hulle het gesien hoe word hy doodgery.
‘n Vriendin van die gesin, me. Hester Keet, het aan die Observer vertel dat mnr. Zietsman Vrydag die motorfiets gekry het.
Hy het gedurende die naweek verstellings aan die motorfiets aangebring en by sy ouers op Middelburg gekuier. Sondag het hy, sy ouers, asook sy broer, Paul, besluit om saam na sy huis in Pullenshope te ry en daar verder te kuier.
Paul het voor gery, waarop Sors met sy motorfiets en hul ouers met ‘n voertuig gevolg het.
Op die Pullenshopepad het Paul bietjie stadiger gery, aangesien daar ‘n ongeluk net ‘n entjie voor hulle was. Hy het skielik skerp gerem toe hy die vierkantige blokgate sien wat in die pad gemaak is om dit te herstel.
Sors moes ook dadelik rem, maar sy motorfiets was reeds in een van die gate en hy is afgeslinger.
‘n Aankomende Babcock-voertuig het effens oorbeweeg om uit te swaai vir ‘n polisievoertuig wat by die eerste ongeluk hulp verleen het. Die bestuurder van die voertuig het nie mnr. Zietsman, wat net etlike sekondes vantevore op die teerpad te lande gekom het, gesien nie en bo-oor hom gery. Hy is opslag dood.
“Die oomblik toe Paul besef Sors was in ‘n ongeluk agter hom en omkyk, was dit egter reeds verby.”
Me. Keet het hom beskryf as ‘n saggeaarde persoon wat altyd gelag het. “Hy het altyd gesê die lewe is iets om te geniet en hy hét die lewe ten volle geniet!”
Mnr. Zietsman word oorleef deur sy kinders, Louis, Carolien, sy ouers, Paul en Audrey, twee broers en twee susters en sy vriendin, Ingrid Barnes.
Die begrafnis is Vrydag (vandag) om 14:00 uit die ou Apostoliese Kerk.



