Local newsNews

Honde in haglike toestande gevind

Ooggetuies het grusame verhale vertel dat honde verdrink, geslag en geëet word agter twee besighede in Van Riebeeckstraat.

Dit is egter ten sterkte ontken en dar word slegs erken dat daar ’n “haas” geslag is. Inwoners het die Vallei Dierefonds gekontak en beweer dat die honde geslag en geëet word agter twee besighede in dié straat.

Me. Natalie Grobler (van Vallei Dierefonds) het ondersoek gaan instel, waarop die mense die slag van honde ontken, maar wel erken het dat hulle ’n haas geslag het.

Volgens me. Grobler, het ooggetuies gesien hoe ’n hond verdrink en geslag word. “Daar is geen wette wat slag van honde en katte verbied nie en ons moet verstaan dat dit is hoe sekere mense groot gemaak is. Dit is hul kultuur. On sien niks verkeerd met die slag van beeste, skape en hoenders nie, is dit nie vir hul verkeerd om honde en katte te slag en te eet nie,” sê me. Grobler.

Die DBV (Dierebeskermingsvereniging) van Mokopane is gekontak deur die Vallei Dierefonds. “Wat my net baie bekommer en ontstel is die manier waarop die diere aangehou, behandel en doodgemaak word, deur hul te verdrink voor hul geslag word.”

Sonder enige bewyse, foto’s of beeldmateriaal is Vallei Dierefonds se hande afgekap om verdere stappe te neem.

Die DBV in samewerking met Vallei Dierefonds, het die persele besoek, waarvan daar klagtes ontvang is. “Ons het wel in al hierdie ondersoeke afgekom op die haglike omstandighede waarin honde agter winkels aangehou word in koue, vuil, donker stegies met hoë mure en min beweegruimte.”

In een van die gevalle is ’n baie gefrustreerde, maer en uitgeteerde hond aan die DBV oorhandig wat in ’n baie klein beweegruimte aangehou is. “Die hond het uit frustrasie heeltyd in die rondte gedraai, as gevolg van die min spasie waarin hy moes oorleef en die stres wat hy moes ervaar,” het me. Grobler ontsteld genoem.

Vyf ander honde is vanaf nog ’n perseel agter ’n winkel verwyder. Daar was ’n groot hoeveelheid honde wat in ’n klein hok gevange gehou is en selfs vasgebind is sonder beweegruimte. Hierdie vyf honde is deur die DBV en die Vallei Dierefonds saam met die eienaar van die honde na ’n plaas, ongeveer 20km uit op die Maleoskoppad, geneem, waar daar meer beweegruimte vir hul beskikbaar sal wees.

Die honde word gemonitor deur Vallei Dierefonds om te verseker dat hulle toestand sal verbeter.

Me. Grobler doen ’n beroep op die gemeenskap om hul honde te steriliseer, sodat daar minder diere is wat aan die wreedheid blootgestel kan word. “As jou dier weggegee moet word, maak seker dit is ’n goeie, standvastige huis waarheen hy gestuur word. Soms is dit beter om seker te maak jou hond is vir ewig veilig deur hom of haar te laat uitsit. Dit is ’n sagte, nie pynlike inspuiting, wat dit heelwat beter maak as om te wonder of jou hond dalk ook eendag in ’n pot opeindig,” sê me. Grobler.

•Vallei Dierefonds is ’n nie-winsgewende organisasie wat afhanklik is vir hulp vanaf die gemeenskap. Indien jy graag ’n inset wil lewer in die werk wat hul verrig, kan ’n donasie gemaak word aan Vallei Dierefonds, Absa bank, tak kode: 334147, rekeningnommer: 4067819806.

Kos vir honde en katte is ook welkom, sowel as halsbande, komberse, roomysbakke of ander plastiekhouers om die diere te voer.

Bel me. Grobler vir verdere navrae by 076 411 8476.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button