Local newsNews

Die dorp vat hande

Terwyl ’n familie in Kanonkop besig was om ’n verjaardag te vier, het hartseer hulle Dinsdagaand 05 Mei getref.

Verweef in die storie van ’n kind wat op die oomblik vir sy lewe veg, is daar ook een van hoop, een van vreemdelinge wat hande vat en een van uitkoms in nood.

Aiden Roberts (18 maande) het saam met familielede agter gebly terwyl sy ma Clarise gou van hul huis in Jakarandastraat na Kanonkop Spar gery het om nog ’n paar goedjies vir die verjaardag te gaan koop.

Met haar terugkeer kon sy Aiden nêrens kry nie. Haar familie was onder die indruk dat hy saam met haar winkel toe gery het. Sy het uit gehardloop swembad toe, waar sy haar seuntjie sien dryf het. Hy het geen tekens van lewe getoon nie.

Aiden se oupa het dadelik begin om noodhulp toe te pas. Clarise het om hulp geroep op die Middelburg 911 Zello radiogroep en verskeie inwoners het haar te hulp gesnel. Paramedici van ER24 het kort daarna ook op die toneel opgedaag en oorgeneem.

In ’n persverklaring het ER24 se Russel Meiring gesê dat paramedici daarin kon slaag om ’n hartklop te kry, nadat hulle vir bykans tien minute noodhulp op Aiden toegepas het. Hy is daarna voorberei om per ambulans na ’n hospitaal vervoer te word.

Die rit van Jakarandastraat tot by die Midmed Hospitaal in Joubertstraat is in minute afgelê nadat radiogroeplede saamgespan en paaie toegemaak het, sodat die ambulans so vinnig moontlik sy eindbestemming kon bereik.

Toe kom die nuus: Aiden se ouers het nie ’n mediese fonds nie en hy sou heel moontlik na die staatshospitaal oorgeplaas moes word.

Soos een man het vreemdelinge in Middelburg hande gevat. Oral is gebedskettings gevorm. Mense wat toevallig by die hospitaal was om familielede te besoek, het hul hande op die seuntjie gaan lê en vir hom gebid.

Een so vrou is Wendy Campher. Sy was by die hospitaal om haar eie seuntjie, wat min of meer so oud soos Aiden is, te versorg.

“Die familie was gebroke. Die oupa het gesê hy sal alles verkoop en onder ’n brug gaan bly om vir sy kleinkind se behandeling te betaal.”

Ook sy het haar hand op klein Aiden se kop gaan lê en vir hom gebid.

“Mens voel angsbevange. Jy sien hierdie klein lyfie, oortrek met hoendervleis, tussen pype en masjiene wat biep.”

’n Bekende sakeman, wat ’n familielid in die hospitaal besoek het, het summier R5 000 getrek en in die oupa se hand gestop.

Twee sakemanne, wat op die radiogroep van die voorval te hore gekom het, het by die hospitaal aangekom om hulp te verleen. Hulle het dadelik die rekening by ongevalle betaal.

“Hulle het aangestap gekom en gesê: “Daar is regtig hoop vir hierdie kind. Daar is hoop julle, ons moet bid’” vertel ’n omstander.

Hierna het hulle begin reël vir ’n helikopter om Aiden na die Garden City hospitaal in Johannesburg te vervoer, waar hy spesialis behandeling kan ontvang. Hy is uiteindelik net na 01:00 deur die helikopter opgepik, nadat een van die sakemanne ’n elektroniese oorbetaling vanaf ’n rekenaar by die hospitaal gedoen het.

Die sosiale netwerke het gegons. Almal wou weet: Hoe kan ons help? Waar kan ons geld inbetaal?

Teen Woensdag 11:00 het die familie daarin geslaag om ’n trustfonds vir Aiden oop te maak. Die fondse sal aangewend word om Aiden se kostes, wat honderde duisende rande gaan beloop, te dek.

• Enige iemand wat ’n bydrae wil maak kan geld betaal in die Aiden Roberts Medical Trust, rekeningnommer 625 352 61060 by FNB tjek rekening tak kode: 210408 .

Lees opvolg hier:

Opvolg: Familie hoopvol oor Aiden

Opvolg: Aiden haal self asem

Opvolg: ‘Angels’ steun Aiden

Die dorp vat hande

Opvolg: Aiden steeds in hospitaal

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button