Opvolg: Polisie sê dit is nié gevaarsones
Nóg 'n vrou was Woensdagmiddag die slagoffer van 'n booswig wat teen haar venster gehamer het by 'n verkeerslig, maar die polisie sê hierdie areas is nie misdsaad brandpunte nie en dat die voorvalle toevallig plaasvind.
‘n Vrou (wat anoniem wil bly) het bleek geskrik by die Observer se kantore ingehardloop en gesê dat sy pas ook ‘n slagoffer van die groep was wat vroue in voertuie teiken by verkeersligte.
Die vrou wou nie oogkontak maak nie en met die waai van haar hand vir hom beduie dat hy moet geepad. Hy het egter net nóg harder teen haar venster geklop. Dit was só hard, dat sy bang geword het hy gaan haar venster breek.
Die oomblik toe die lig groen slaan, het sy vinnig weggetrek, net om te sien dat hy vir haar ‘n middelvinger wys.
• Op die Dinsdagkoerant se voorblad is daar berig oor drie vroue wat slagoffers was van booswigte wat nie net aan vensters geklop het nie, maar ook deure oopgeruk het.
Verlede Dinsdag is me. Vida Labuschagné op presies dieselfde plek oorval. Een het by haar venster geskreeu hy gaan haar doodmaak en twee ander het by haar in die voertuig gespring. Een van die twee het haar van agter af gewurg, terwyl sy makker haar selfoon en beursie gebuit het.
Donderdag was twee vroue slagoffers by die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat.
• Me. Janine Paterson moes veg om die voertuigdeure toe te hou, toe hulle beide kante die deure oopgeruk het.
• Me. Esmerelda Brits sê een het met ‘n mes teen haar venster gekap en sy het oor die rooi lig gejaag om weg te kom.
Sy is bly hy het nie die deur oopgekry nie, aangesien hul visums en paspoorte in haar handsak in die voertuig was. Hulle het twee dae later na Phuket gevlieg en sou nie oorsee kon gaan as hul dokumente gesteel is nie.
By navraag aan die polisie se mediakantoor, het kapt. Khanyisile Zwane gesê dat hierdie verkeersligte nie as misdaadbrandpunte gesien word nie, aangesien die voorvalle nie op ‘n gereelde basis plaasvind nie.



