Local newsNewsUpdate

Opvolg: Pelser wéér gesoek

Daar is wéér skuldeisers op die spoor van Johann Pelser! Pelser was verlede jaar gereeld in die nuus, omdat hy mense op die dorp geld skuld en nie sover kom om hulle te betaal nie. Toe dinge te warm word, het hy homself gesekwestreer.

‘n Sakeman van Silverton is oorgehaal om hom vas te vat oor skuld van meer as R500 000. Hy het intussen ook ‘n bedrog- en diefstalsaak teen Pelser aanhangig gemaak.

Mnr. Edgar Filter sê hy het van die begin af nie vir Pelser vertrou nie, maar sy vennote het geglo dat hy hulle sal betaal, omdat hy daar aangekom het met ‘n duur voertuig. Pelser het destyds vir hulle gesê dit is ‘n voertuig wat hy by “Thys die Bosveldklong” gekoop het. Hulle het egter later verneem dat hy net die voertuig by dié bekende sanger geleen het.

“Ek het aan die begin al gevoel dat hy skelm is. Iemand wat so aanmekaar van die Here praat, dra gewoonlik die duiwel onder die arm!” het mnr. Filter uitgevaar.

Later toe daar begin is met onderhandelinge dat hy hulle moet terugbetaal “het hy selfs sover gegaan om sy kind saam te bring, sodat ons hom moes jammer kry!”

Mnr. Filter het dit duidelik gestel dat hy “op ‘n missie is om Johann Pelser op te spoor. Johann, jy is op my most wanted lys!”

• Van die vennote was in November verlede jaar by Pelser se huis in Dennesig om met hom te praat oor sy skuld. Van die artikels was in sy erf en hy het onderneem dat hy die volgende week alles sal betaal. Toe hulle twee weke later weer by sy huis opdaag, het hy spoorloos verdwyn (die Observer het berig dat hy oornag getrek het).

• Een van die mense wat ook besluit het dat hy dinge nie net so gaan los nie, is mnr. Japie Jonker. Sy aksie gaan oor onderhandelings wat verkeerd geloop het oor sy Landcruiser, ‘n Mahindra en ‘n trekker. Hy het ‘n voertuigdiefstalsaak teen Pelser gemaak.

• Met die koerant se ondersoek verlede jaar is vasgestel dat hy aan bedrog en diefstal skuldig bevind is. Hy is op beide klagtes elk twee jaar tronkstraf opgelê, wat opgeskort is vir vyf jaar.

• Pelser se prokureur het hierdie week gesê dat hy vroeër hierdie jaar in die hof was en dat die staat die saak van mnr. Jonker teruggetrek het.

“Hulle het seker gesien dit is ‘n siviele kwessie. Ek moet nog net ‘n eedsverklaring by mnr. Pelser kry. Daar is net één probleem, mnr. Pelser het intussen ‘n beroerte gehad en sukkel om te onthou,” het mnr. Werno van Aswegen (mnr. Pelser se regsverteenwoordiger) Dinsdag gesê.

• Daar is verskeie kere probeer om met Pelser te probeer kontak maak vir sy kommentaar op die jongste bewerings, maar teen druktyd was daar nog geen reaksie nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button