Local newsNews

Nee! vir eMakhazeni inlywing

Inwoners is fel gekant teen die inlywing van die Makhazeni munisipaliteit by Middelburg.

Die samesmelting sal beteken dat die dorpe Belfast, Dullstroom, Machadodorp, Waterval Boven en Waterval Onder by die Groter Middelburg ingelyf word.

Die areas strek oor minstens 130km en sal volgens die DA, ‘n administratiewe nagmerrie veroorsaak.

DA raadslid, mnr. Jos Pretorius, sê die geografiese grootte van die area wat ingelyf word, sal onbestuurbaar wees, en dat dit sal lei tot swak dienslewering in dié gebiede.

“Besluite soos dié wat deur die nasionale regering afgedwing word, sal beslis lei tot politieke onstabiliteit in die areas, omdat daar reeds teenkanting is van die belastingbetalersvereniging van eMakhazeni wat vrees dat onbetaalbare belastings op eiendomme gehef sal word, na ‘n drastiese stygings reeds ingestel is,” sê mnr. Pretorius.

“Daar is geen logika daaragter om ‘n finansieel onstabiele munisipaliteit, by ‘n finansieel stabiele munisipaliteit te inkorporeer nie, die uiteinde sal net een groot onstabiele en onvolhoubare munisipaliteit tot gevolg hê,” is mnr. Pretorius se mening.

Die spertyd vir besware het reeds op 9 Maart verstryk.

Mnr. Pretorius meen dat daar bykans geen ontwikkeling na die betrokke munisipaliteit onderneem is nie, en die feit dat daar net ‘n 23% betalings rekord in Belfast alleen is, inwoners in groot finansiële moeilikheid sal dompel.

Hy sê verder dat die samesmelting ook nie sal verseker dat nodige vaardighede na die dorpe sal uitvloei nie.

“Daar is reeds nie genoeg fondse vir die teer van strate in nuwe dorpsuitbreidings soos Aerorand en Uitbreiding 18 nie, en dit is in Middelburg!” sê mnr. Pretorius en las by dat indien beskikbare kapitaal verder gesny word, om die nuwe dorpe te diens, dit jare sal neem om op te vang.

“eMakhazeni skuld Eskom miljoene, as die surplus fondse van Middelburg nou skielik aangewend moet word om dié skulde te delg, waar laat dit die getroue belastingbetalers van Middelburg?” vra hy.

Hy eggo die sentimente van verskeie inwoners wat op ‘n SMS- meningspeiling van die Middelburg Observer reageer het.

• Hoe kan dit realiseer as die munisipaliteit nie eens Rietkuil in stand kan hou nie, wat nog Belfast en drie ander dorpe? – A. Geel

•Van watse wolk het Pravin Gordhan afgeval? Enige swaap weet dit is moeiliker om ‘n groot skip te stuur. Hy het duidelik nie fisika op skool gehad nie. Viva ANC, skuif maar weer julle gemors op iemand anders af.

• Gee krediet waar krediet verdien word, die amptenare van Middelburg, nie die regering nie!

Gaan maar verby eMakhazeni, ons wil nie julle onbekwame amptenare op ons nekke hê nie.

• Nee, nee, nee! Indien die munisipaliteite sou saamsmelt sou ons belastings so verhoog dat ons arme pensioenarisse net nog verder sal verarm. Dit gaan hier oor dakke oor ons koppe en brood op die tafel.

• Die stadsraad moet eers Avalon en ander munisipale areas diens.

Dan kan hy daarna kyk om ‘n reddingsboei na ander dorpe toe uit te gooi.

Die bogemelde menings is maar enkele van die besware wat teen die inlywing gekry is.

Daar kon teen druktyd nie vasgestel word hoeveel besware wel deur die Afbakeningsraad ontvang is nie, hoewel die DA talle besware namens inwoners ingehandig het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button