Local newsNewsUpdate

Opvolg: Dokter Kok drama duur voort

Dr. Alan Kok sal voortaan nie by een van die hospitale in die Life Healthcare groep welkom wees nie.

Die Observer het hierdie week verneem dat dr. Kok se opnameregte by al die Life Healthcare hospitale opgeskort is. Die uitvoerende media- en kommunikasiebeampte van die Life Healthcare groep, me. Ivonne Motsisi, het Woensdagoggend in ’n mediaverklaring slegs bevestig dat “die dokter waarna verwys word se opnameregte teruggetrek is deur Life Healthcare.”

Sy wou nie ontken of erken dat daar ’n dissiplinêre verhoor was teen dr. Kok nie. Sy het gesê dit is “’n konfidensiële saak tussen Life Healthcare en die dokter. Jy kan by die dokter self hoor of hy bereid is om met jou te praat.”

Daar is na beide dr. Kok se selfone geskakel en ook sms-boodskappe gelaat. Teen druktyd het hy nog nie daarop reageer nie.

• Dr. Kok is op 23 Januarie vanjaar met ’n mes gesteek deur mnr. Liam Niemandt ná ’n onderonsie by mnr. Niemandt se huis. Die video is steeds op die webtuiste van die Observer waar ’n mens kan sien hoe die geveg uitbreek.

Dr. Kok het twee weke gelede ontken dat daar ’n verhouding was tussen hom en mnr. Niemandt se vrou, Chantal, maar sy het op haar beurt erken dat daar wel ’n verhouding was. Sy het egter bygelas dat “dit verby is.”

’n Klagte van onprofessionele gedrag is deur ’n man in 2012 by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) ingedien, omdat hy beweer dat dr. Kok met sy vrou ’n verhouding gehad het. Die raad het nooit die klagte ontvang nie, waarop dit twee weke gelede weer aan hulle gestuur en ’n klagte van onprofessionele gedrag geopen is.

Mnr. Niemandt het ook ’n klagte van onprofessionele gedrag by die raad ingedien na aanleiding van die beweerde verhouding met die dokter en sy vrou.

Dr. vertel van arrestasie

•’n Bedrogklagte is by die raad ingedien laat verlede jaar. Die klaer wou nie sy naam bekend maak nie. Hy het net gesê dat die klagte by die raad én sy mediese fonds se forensiese afdeling ingedien is na aanleiding van mediese rekeninge.

• Dr. Kok se opnameregte is drie weke gelede opgeskort by die Life Midmed Hospitaal. Dr. Kok het gesê dit het te doen met al die “slegte publisiteit in die koerant”. Die hospitaal het net gesê dit is ’n interne kwessie en dat dit onvanpas sal wees om kommentaar te lewer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button