Local newsNews

Bosman nageslag gesoek

Daar word na die nageslagte van die oorspronlike Bosman familie, wat diep spore in die geskiedenis van Middelburg getrap het, gesoek.

Dié nageslag sal op 21 Maart, op Menseregtedag, ‘n reünie hou waar al die geslagte geleentheid sal kry om hul oupas se familielede van naderby te leer ken.

Me. Letchen Herbst, een van die agterkleinkinders, vertel dat haar oupagrootjie op dié betrokke dag presies 115 jaar dood sal wees.

Die families kom om 11:00 byeen by die Witkerk vir ‘n diens, waarna almal van daar af sal vertrek na die plaas Suikerboschplaat waar ‘n Bosman gedenkplaat onthul sal word. In die Witkerk sal besienswaardighede, soos ‘n Bybel, van die familie uitgestal word. Mense moet hul eie stoele en piekniekmandjie saambring vir die dag.

Maar waar kom die Bosman familie vandaan?

Hierdie familie kom vanaf die vroegste tye toe die dorp nog as Nasareth bekend gestaan het.

Die ou grootvader, ‘n (ene Van der Merwe) het die plaas Suikerboschplaat, aan sy dogter, Catharina Elizabeth, bemaak, wat op 18 Maart 1849 in Graaff-Reinet gebore is. Sy is in 1923 oorlede.

Was dit dalk jou oupa?

Sy was getroud met Daniel Johannes Bosman, wat gebore is op 28 Augustus 1846 en oorlede is op 21 Maart 1900.

Tydens die oorlog het hulle op Suikerboschplaat gebly en ook op Middelburg in die konsentrasiekamp beland. Oumagrootjie het egter by die Engelse toestemming gekry om in haar nagmaalhuis aan te bly.

Hulle was egter ook aan al die ellende blootgestel.

Hul huis, asook hul kinders se huise op die plaas is afgebreek en almal moes oor begin.

Hulle het elf kinders gehad, waarvan een dogtertjie op driejarige ouderdom oorlede is. ‘n Paar van die ander is ook jonk dood. Sewe van die kinders is egter later getroud en daar is vele afstammelinge.

Party het vername mense geword, waaronder parlementslede, mynkapteine, predikante, ‘n direkteur by die OTK, ‘n apteker en selfs ‘n skilder.

Johnny Bosman, die man wat vir jare in Middelburg te sien was met sy hond, is ook ‘n nasaat van dié familie en hulle wonder juis wat van hom geword het.

Daar word ‘n beroep op mense gedoen wat op enige manier familie is van die Bosmans, historikusse, geskiedenisnavorsers of skrywers, om so gou as moontlik kontak te maak met me. Petronella du Preez by 013 243 3922 of 072 294 9922 of me. Herbst by 076 242 3346.

• Op die plaas Suikerboschplaat is daar in die rantjies ‘n groot rots waarop Gideon Scheepers, twee van sy Bosman neefs, Danie en Kosie, asook twee Bosman niggies elkeen ‘n groot klip geplaas het, voordat die mans kommando toe is. Hulle het saam die Volkslied van destyds, “Ken giy dat Volk” gesing, voordat daar van die vrouens afskeid geneem is.

• Die Bosman-egpaar se elf kinders se name verskyn elders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button