Motoriste geteister
Verskeie motoriste was die afgelope naweek slagoffers van booswigte wat hul deure probeer oopruk het.
• Me. Karien Botha was Donderdag omstreeks 15:00 die eerste slagoffer by die verkeerlig op die hoeke van Walter Sisulu- en SADCstraat.
Sy het gestop by die rooi verkeerslig in SADCstraat om regs te draai in Walter Sisulustraat.
Me. Botha het in haar truspieëltjies gesit en kyk, omdat sy weet dat daar gereeld probleme in die omgewing is.
Dieselfde oomblik was daar ‘n probleem met die CD en sy het vooroor gebuk om ‘n ander CD in die paneelkassie te kry. Toe sy regop kom, het iemand aan die linker agterdeur begin ruk.
Sy het daarheen gekyk en was verlig dat haar deure almal gesluit is. Toe sy weer terugkyk voor haar, het iemand langs haar venster gestaan.
Haar bestuursvenster was ‘n klein entjie oop en sy het gesien hoe die man langs haar venster sê: “Nee” en wegstap. ‘n Tweede man het saam met hom weggestap tot by die sypaadjie.
Die een wat pas tevore aan haar deur geruk het, het omgestap gekom en gesê dat daar fout is met haar wiel. Die lig was egter teen dié tyd groen en sy het weggery. Eers ‘n paar blokke verder het sy begin huil van skrik en besef dat sy byna die slagoffer was van moontlike kapers.
“Hulle was nie agter my handsak aan wat op die grond voor langs my gestaan het nie. Hoekom het hy aan die deur geruk? Wou hulle inklim? Ek gaan vandag kyk of ek my posbus na die Middelburg Mall toe kan skuif. Ek wil glad nie meer in die middedorp ry nie. Dit is te gevaarlik!”
• Vrydag net na 19:00 het me. Chanell Geldenhuys afgery in Walter Sisulustraat oppad na haar huis net laer af in die straat.
Sy het by die verkeerslig gestop (hoek van Walter Sisulu- en SADCstraat) en uit die hoek van haar oog vier mans opgemerk.
Me. Geldenhuys het gesien hoe twee van die vier voor haar voertuig in die pad verbyloop. “Hulle het vir my baie verdag gelyk, so ek het hulle dopgehou. Ek het nie gesien waarheen die ander twee loop nie.”
Die volgende oomblik het sy gehoor hoe iemand aan die linkerkantste agterste passasiersdeur ruk. Me. Geldenhuys het haar boeglam geskrik en opgemerk dat die twee wat voorheen besig was om oor die pad te loop, ook op haar voertuig toesak.
“Gelukkig was my deure gesluit en het ek net weggejaag. So kon ek boonop ‘n ongeluk veroorsaak het, want die lig was rooi!”
Toe sy sekondes later in haar truspieëltjie kyk, het sy gesien hoe die groep op die voertuig agter haar ook toesak.
“Ek is sewe maande swanger en ek het só geskrik!”
Me. Geldenhuys het mense gewaarsku om ten alle tye hul deure gesluit en hul vensters toe te hou in daardie omgewing.
• Mnr. Rikus Moorcroft het Saterdag omstreeks 12:00 afgery in Cowen Ntulistraat en gestop by die rooi verkeerslig. Hy wou links draai in Lilian Ngoyistraat.
Hy vertel dat hy heel voor gestaan het en ingedagte die bedelaar, wat reg voor sy voertuig gestaan het, dopgehou het.
Die volgende oomblik het die deur aan die bestuurderskant oopgevlieg en ‘n man skreeuend die deur probeer oophou.
Mnr. Moorcroft sê die man het geweldig geskreeu en geraas en hy het met al sy mag die deur toegeruk en weggery.
‘n Entjie verder het ‘n liggie in die voertuig vir hom ‘n aanduiding gegee dat een van sy voertuigdeure oop is. Mnr. Moorcroft sê sy bestuurskant was wel toe en hy het begin rondkyk.
Op hierdie stadium het hy gesien dat sy passasiersdeur nie op knip is nie en dat sy beursie weg is.
“Ek het nooit gehoor dat hulle die passasiersdeur oopmaak nie en hulle het hom net saggies weer toegestoot. Ek wonder of die bedelaar nie deel is van alles nie. Terwyl alles gebeur het, het hy net uitdrukkingloos voor hom bly kyk! Hy moes gesien het wat gebeur het. Hy het nie eers probeer hulp aanbied nie.”
Daar was nie kontant in die beursie nie, maar al sy kaarte, waaronder bank- en bestuurskaarte, was in die beursie. As iemand moontlik van sy kaarte optel, bel mnr. Moorcroft by 082 932 7677.
• Die Guardian Groep en Middelburg 911, het na aanleiding van al die klagtes Saterdag begin met patrollies in die dorp. Lees elders hoe hulle blitsig ‘n handsakdief in Walter Sisulustraat vasgetrek het.



