Opvolg: Dokter vertel van arrestasie
Dr. Alan Kok ontken dat daar verskeie sake teen hom ondersoek was.
Sy arrestasie, sê hy, het te doen gehad met ’n beskermingsbevel. “Ek het vir my eksvrou én haar prokureur gesê het dat ek vir haar geld gaan vat. Maar as daar ’n beskermingsbevel teen jou is, mag nie eers die staatspresident vir jou toestemming gee om by die erf in te gaan nie.”
Dr. Kok is gearresteer vir oortreding van die bevel. “Die polisie het my vinger gebreek toe hulle my gearresteer het. My vrou het nog die aand probeer om alles terug te trek.”
Omdat sy vinger so erg gebreek was, is dr. Kok deur die polisie hospitaal toe geneem. “Ek was met boeie aan ’n bed vasgemaak!”
Hy verduidelik verder dat hy ses maande onder huisarres geplaas is tot die verhoor.
Tydens die verhoor is hy skuldig bevind aan die verbreking van die bevel (minagting van die hof), crimen injuria, intimidasie en aanranding “omdat ek aan haar arm gevat het. Laasgenoemde twee klagtes is egter tydens appél uitgegooi, want daar was geen beserings nie.”
Op die een klagte het hy ’n boete betaal (crimen injuria) en op die ander klagte het hy ’n opgeskorte vonnis gekry.
Die crimen injuria klagte was na aanleiding van die voorval waar sy eksvrou se vriendin op hom geskree het terwyl hy by sy eksvrou se huis was. “Ek het vir haar gesê ek het niks vir jou te sê nie, waarop sy aangehou het en ek haar toe vertel het wat ek daarvan dink.”
Hy sê hy was egter nog nooit aan iets anders, soos aanranding, skuldig bevind nie.



