Local newsNews

Ma en dogter herenig

'n Vrou het na 47 jaar haar biologiese ma ontmoet! Me. Liesl Kotze se aanneemouers het haar op negejarige ouderdom vertel dat sy 'n aangenome kind is.

“Dit het my nooit gepla nie, totdat hulle albei oorlede is en ek graag my biologiese ma wou opspoor. Ek het in die wonderlikste, liefdevolste ouerhuis grootgeword en ek glo geen kind kon vir beter ouers gevra het as wat ek gehad het nie.”
Haar pa is in 1994 oorlede en haar ma in 2006 en sy het nog ‘n paar jaar gewag voordat sy begin het met die soektog.
Dit was egter ‘n moeilike proses en na vele onsuksesvolle pogings het sy die registrateur van aannemings gekontak, waarna sy haar aannemingsdokumente in die hande gekry het.
Met haar ma en pa se name en troudatum het haar soektog niks opgelewer nie, aangesien sy nie hul ID-nommers gehad het nie.
Met die hulp van Binnelandse Sake het sy dit alles gekry en so het haar soektog uiteindelik begin vrugte afwerp, veral toe sy hoor haar ma leef nog.
Hulle bly op Edenburg in die Vrystaat en sy het die predikant daar gekontak en gevra hy moet hulle gaan sien en hoor of hulle sou belangstel om haar te ontmoet.
“Ek het daardie oproep gekry waarvoor mens soveel jare gewag het en kon kontak maak met my ma. My biologiese pa is oorlede en my ma is weer getroud. Ek het my ma opgespoor ‘n week voor haar verjaardag en dit was so wonderlik om haar op haar verjaardag te kon bel.”
Liesl is by geboorte aangeneem en haar ma het haar nooit gesien nie. “My ma wou my glad nie laat aanneem nie, maar haar omstandighede was op daardie stadium so dat sy my nie kon hou nie. Ek is die jongste van drie kinders gewees.”
Sy wou egter graag weet hoe sy lyk en het geen verwyte gehad nie. “Ek moet erken ek was baie bang vir verwerping. Ek het heeltyd vir myself gesê, ek sal dit kan hanteer, maar vandag besef ek as hulle my moes verwerp, sou ek verpletterd gewees het. Ek wou so graag die moederlike oumatjie-mamma kry en dit is presies wat ek gekry het. ‘n Liefdevolle mensie.”
Sy vertel opgewonde dat sy nou ‘n ouer broer en suster het wat in die Kaap bly. “Sy het ‘n paar jaar in Middelburg gebly, net 50km van my af, en ons het nooit van mekaar geweet nie.” Daar is ook ‘n halfbroer en ‘n stiefbroer.
“Ek is met soveel liefde en ope arms ontvang deur almal van hulle!”
Sy het al ‘n paar keer vir haar ma en suster gaan kuier. “Dit is vir my wonderlik om weer ‘n familie te kan hê, nadat ek my hele gesin, my pa, ma en broer, aan die dood moes afstaan.
“Wat so merkwaardig is, my sussie se seun en my seun lyk op ‘n druppel water na mekaar!”
“Ek is bly dat ek die moeite gedoen het om hulle te soek. Deur die hele soektog kan ek net die Here se hand in alles sien. Ek kan dit net beskryf as ‘n wonderwerk met hoe die gebeure bymekaar gekom het.”
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button