Video: Seuns glo vas gebind en aangerand
'n Nuwe werknemer van 'n sekuriteitsmaatskappy word van die aanranding op ses minderjariges beskuldig, nadat hy hom voorgedoen het as reaksie offisier.
Die voorval, waartydens hy na bewering ses seuns aangerand het, het by ‘n huis afgespeel, waar die kinders R1 per uur betaal om te swem.
Die eienaar van die huis in Jakarandastraat, mnr. Karel van Aswegen, het die voorval bevestig.
Vosloo het glo die naweek by mnr. Van Aswegen se dogter, Karlien, kom afpak, nadat sy ouers hom glo uit die huis gejaag het in Middelburg.
Die voorval, wat die ouers van die ses seuns nou laat saamspan het om aanrandingsklagte teen Vosloo te bring, het omstreeks 17:00 afgespeel, toe een van die seuns gesê het sy selfoon is weg.
Die seuns is almal op die plek deur Vosloo bymekaar gemaak en om die beurt na bewering geklap en gevloek.
Hy het egter besluit die 13-jarige Corne Kunneke is die sondebok en het hom na bewering met die vuis teen die bors geslaan, sy kop teen ‘n ruit en ingeboude braai gestamp en ook vasgebind in die reën laat sit.
Vosloo is later weg om mnr. Chris Kunneke te gaan haal, toe Karlien besluit het om die vreesbevange Corne los te maak.
Met mnr. Kunneke se aankoms is hy meegedeel dat sy seun gesteel het en “gearresteer is”.
Mnr. Kunneke sê dat mooipraat geen invloed op ‘n besope Vosloo gehad het nie, en dat hy eindelaaste gedreig het dat hy hom gaan bl*****, sy seun in die kar gelaai het en huistoe is.
Daar het hulle tot na 21:00 op die polisie gewag, wat teen Woensdag nog nie opgedaag het om die sake te open nie, ten spyte daarvan dat tye gereël is Maandag en Dinsdag, en al die ouers en seuns by die Van Aswegens bymekaar gekom het.
Na klagtes van die Observer oor die polisie se onbeholpenheid het ‘n plaaslike polisie offisier ‘n paar oproepe gemaak, en het ‘n kaptein van Hendrina onderneem om persoonlik Donderdag met die ouers en seuns te ontmoet vir die lê van aanrandingsklagte.
Volsloo het Donderdag gesê dat die klaers “maar sake moet gaan oopmaak as hulle so voel”.
Hy ontken dat hy die seuns aangerand het en sê hy het baie bewyse om dit te staaf, “die name en nommers van die mense waar ek was,” sê hy onder meer.
Toe die Observer aan hom noem dat dit juis dié mense is wat die aanrandings bevestig het, het hy gesê alles is leuens.
Vosloo ontken dat hy die seuns geklap en gevloek het.
Hy sê hy het eers na die drama by die Van Aswegens aangekom en toe verneem van ‘n selfoondiefstal.
Die 13-jarige seun sê dat Vosloo ‘n ” quart bier” in sy hand gehad het tydens die aanranding.



