Kry kanker doodsvonnis
Twee jaar gelede het Jurie Pieters (49) 'n kankerdoodsvonnis by dokters gekry en vandag het hy al meer as 20 000 kilometers gestap as Suid-Afrika se "geloofsloper".
Jurie is Donderdagmiddag deur mnr. Lompies Lombaard net buite die dorp opgelaai oppad terug vanaf Pretoria na Middelburg. Hy laai nooit rylopers op nie, “maar ‘n stem het net vir my gesê: ‘stop!”
Hy het mnr. Pieters opgelaai en vir hom blyplek vir die nag gegee. “Sy kennis van die Woord is ongelooflik. Hy het genoeg tyd op sy pad om Bybel te lees.”Regdeur die land, vanaf Franschhoek in die Kaap (waar hy weggespring het) tot by die Transkei, deur Kwazulu-Natal en selfs Gauteng het nasionale dagblaaie en gemeenskapskoerante al vanaf 2013 oor dié man geskryf wat te voet die land deurkruis.
Maar hoekom het hy al 20 000 kilometer (tot op Middelburg) geloop? “Dis net ek en God, my Bybel, my klere, my tent, my stofie en my slaapsak….ek wil mense inspireer om met positiewe denke voort te gaan” begin hy sy verhaal.
Jurie vertel dat dokters in September 2013 vir hom die verdoemende nuus gegee het dat hy breinkanker het. “Ek het vir meer as ‘n uur en ‘n half met ‘n pistool in my mond gesit om selfmoord te pleeg, maar ek kon net nie. Toe besluit ek maar op die geloofstap.”
Sy lewensverhaal op daardie stadium was toe reeds baie hartseer. Jurie het vyf jaar gelede sy vrou, Gerda en tweelingdogtertjies, Yolandi en Magdalena, in ‘n ongeluk by Drie Susters (Kaapprovinsie) verloor. “Ek was destyds só kwaad vir die Here dat ek tot my Bybel verbrand het!”
Na sy breinkanker diagnose het hy alles opgegee en verkoop en ‘n daadwerklike besluit geneem om net op die Here te vertrou en te gaan waar sy voete hom heen lei.
Op ‘n kaart is daar in rooi kruis en dwars lyne getrek waar hy al oral was.
Sy beginroete was tussen Franschhoek en Durban wat 144 dae geneem het. Daarna het hy weer van die Kaap af die roete deur die Transkei geneem, vandaar na Durban en binneland om tot by Pretoria.
Tussen die lyne is daar aantekeninge van die weersomstandighede, soos tussen Pretoria en Springbok het hy baie wind gekry. Op ‘n ander plek staan daar hoe koud dit was.
Hy was al drie keer terug Kaap toe en sê hy “gaan aanhou loop tot die Here sê ek moet ophou! Hierdie is ‘n geloofsaak, ek worry nie oor die dag van more nie.” Hy slaap langs die pad, op plase en waar mense vir hom ‘n plekkie gee om te slaap.”
Volgens Jurie is hy “die gelukkigste ou in Suid-Afrika. Ek worry nie oor E-Toll, of beurtkrag nie. As ek wil koffie maak, dan maak ek koffie. Dit wat jy sien, is ek.”
Om aan die lewe te bly (as hy nie skenkings kry nie), drink hy twee blikkies kondensmelk per dag en eet agt piesangs per dag.
Net voor hy Vrydag die pad aangepak het na Ermelo, het Jurie dié spesiale boodskap vir Middelburgers agter gelaat: “Middelburg, skrik wakker! Sit geloof oor in aksie. As jy iets gee vir ‘n bedelaar, moenie bekommerd wees wat hy daarmee gaan doen nie. Gee uit jou hart uit, gee ‘n blessing.”
• Kyk op die webtuiste by www.mobserver.co.za (Geloofsloper) waar Jurie ‘n boodskap vir Middelburg bring.



