Polisie besig met identikit
Die polisie is besig om 'n identikit saam te stel na die roof waar 'n vrou en haar twee jong seuns verlede Woensdag in hul huis in Aerorand aangehou is.
Me. Charmaine Kotze en haar twee seuns, Divan (13) en Ruan (10), is deur rowers rondgestamp en met ‘n rewolwer aangehou in Lebombostraat.
Die polisie het me. Kotze reeds besoek om ‘n gesigsamestelling te doen van een van die vier rowers wat hulle aangehou het.
Die leier van die bende het onder meer ‘n rewolwer teen me. Kotze gehou en haar oor die kop daarmee geslaan. Ruan is later ook met die rewolwer teen die kop geslaan.
Op ‘n stadium het die booswig die rewolwer gelaai en op die seuns gerig, waarop me. Kotze voor die seuns ingespring het en belowe het dat sy en die kinders sal saamwerk en dat almal net kalm moet bly. Me. Kotze en haar seuns is tydens die voorval ook vasgebind.
Die vyfjarige Zandri het gelukkig nooit wakker geword tydens die rooftog nie.
• Die rowers het weggekom met sowat R150 000 se huisware, soos platskerm televisiestelle, juwele, ‘n skootrekenaar, rekenaars en kruideniersware. Die vermoede bestaan dat hulle met ‘n bakkie hul buit weggery het.
Die bende het me. Kotze eers wakker gemaak, nadat hulle die meeste huisartikels uitgedra het. Buiten al die huisware wat gesteel is, het die groep die huis in totale chaos agtergelaat omdat hulle alles uitgegooi het in hul soektog na waardevolle artikels.



