Local newsNews

Vrou sterf in karavaan

'n Wegbreek naweek om 'n vrou se verjaardag te vier by De Voetpadkloof het hartseer geëindig toe sy dood in 'n karavaan aangetref is.

Me. Anita Booyens (49) was reeds dood toe haar man, Leon, haar Sondagoggend wou wakker maak.

“Ons het Saterdagaand omstreeks middernag gaan slaap. Ek het haar vyfuur gekry net soos sy gaan lê het. Ek kon nie ‘n pols voel nie, maar my kop het vir my gesê dit kan nie waar wees nie!”

ER24 is ontbied en hulle was binne 15 minute daar omdat hulle oppad terug vanaf ‘n ongeluk in Kranspoort was.

Kort na hul aankoms het hulle me. Booyens dood verklaar. Mnr. Booyens sê sy vrou het aan ‘n hartaanval beswyk.

Hy was teen Woensdag nog geskok oor die gebeure. “Sy het Saterdagaand nie eers pynmedikasie geneem nie.” Me. Booyens het van haar ribbes gebreek toe sy op 7 Januarie in die bad by hul huis geval het.

Hy onthou hoe opgewonde hulle was oor die naweek by De Voetpadkloof.

Saterdagoggend het hy haar wakker gemaak met ‘n sjampanje-ontbyt in die bed en hulle het saam die dag geniet.

Ander kampers het later vertel dat die tweetjies smoorverlief gelyk het. Daar is heeltyd foto’s geneem. Mnr. Booyens het die kamera gestel en op iets neergesit en dan gehardloop om ook in die foto te wees.

Die Booyens egpaar is twee jaar gelede getroud.

Hy vertel hoe gelukkig hulle was en dat hulle mekaar op elke gebied aangevul het.

“Dit was die gelukkigste tyd van my lewe. Ons het dieselfde belangstellings gehad. Anita was ‘n vrolike mens en het met almal oor die weg gekom.”

Mnr. Booyens vertel trots dat sy vrou ‘n paar jaar gelede een van die jongste vrouekolonelle in die polisie was. Sy het op ‘n stadium by die okkulte eenheid en later by die getuie beskermingseenheid gewerk.

Na haar aftrede het sy versekering verkoop vir unies.

Die werk het haar egter lang ure van die huis af weggehou en hulle het saam besluit dat sy ophou werk.

“Wie gaan nou na my kyk?” Het hy emosioneel uitgeroep.

Me. Booyens word oorleef deur mnr. Booyens, haar ma, Phylis en susters Susan, Dina en Amelia.

Die begrafnis was Donderdag uit die Kruisgenerasie gemeente. Die pastoor wat die paartjie in Oktober 2012 in die eg verbind het op Barberton, past. Leon Crause, het die diens gelei.

• Mnr. Booyens wil graag almal wat hom in hierdie tyd ondersteun bedank.

‘n Spesiale woord van dank gaan aan die personeel en kampeerders by De Voetpadkloof wat hom Sondag bygestaan het. “Vreemde mense in die kamparea het koffie aangedra en my vertroos.”

Hy bedank ook die span van ER24 “vir hul uitstekende, professionele diens.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button