Inbrekers slaan hond dood
Inbrekers wat by ’n huis op ’n plaas op die Slagboompad buite Marble Hall ingebreek het, het die volgende dag terug gegaan, dié keer met vuurwapens.
Mnr. Charl Marais (31) was uithuisig en het Sondag, 28 Desember, ’n oproep vanaf bure ontvang wat aan hom verduidelik het dat van sy besittings in die veld onder ’n kombers gevind is.
Mnr. Marias het na sy woning gehaas en gevind dat daar by sy huis ingebreek is en dat sy Jack Russel doodgeslaan is.
Die inbrekers het Saterdag, 27 Desember, ’n klip deur ’n venster van mnr. Marais se huis gegooi. Na daar geen reaksie was nie, het die inbrekers die venster stukkend geslaan, om toegang tot die woning te verkry en het ongeveer 20:00 die alarm in die huis se drade geknip.
’n Aantal elektronieseware, gereedskap en klere is vanuit mnr. Marias se huis gesteel en die ’n veld naby die huis gedra en onder komberse versteek.
“Gelukkig het ek meeste van die duursame items, soos my televisie en klanksisteem teruggekry,” sê mnr. Marais.
Marble Hall SAPS was spoedig op die toneel en het vingerafdrukke geneem, maar vermoed dat die inbrekers handskoene aangehad het.
Mnr. Marais het Sondagaand ’n nagwag van Lezmin Security aangestel om sy perseel te patrolleer.
Ongeveer 02:00 het die wag ses verdagtes opgemerk, wat weer by die perseel amok maak. Twee van die verdagtes het vuurwapens in hul besit gehad.
Die wag het dadelik ’n noodoproep gemaak na Lezmin Security hoofkantoor en daar is’n reaksie voertuig na die perseel gestuur. Met die aankoms van die voertuig het die inbrekers reeds gevlug.
“Ek is net dankbaar ek was nie by die huis nie, dit kon soveel erger uitgedraai het,” sê mnr. Marais verlig.
• Mnr. Marais wil graag Lezmin Security bedank vir hul goeie diens en spoedige reaksie.



