Verdien ek dit?
Tydens die reünie vir oud rugbyspelers verlede jaar by Pienaardam, het Kobus Vorster 'n boodskap aan sy oud spanmaats gestuur. Hy het dit met spesiale tegnologie getik, wat hom ure gevat het omdat hy net sy oë kon beweeg.
Hallo my Maters,
Wat sou ek nie wou gee om vanaand saam met julle te kon kuier en goeie herinneringe met julle te kon deel nie?
Ek het beide vir Middelburg en Witbank gespeel en een ding wat hul in gemeen gehad het, was ‘n heilige vrees en respek vir die manne van Belfast! Menige held het geval daar tussen die lang bome op ‘n koue wintersdag.
Die Middelburg – Witbank derbys het ook sy kwota slagoffers opgelewer en daarvan kan ek persoonlik getuig. In elk geval, die deel wat ek onthou.
Ek koester my rugbydae en droom nog gereeld dat ek weer op die veld rondhardloop met ‘n bal onder die arm. Lekker!
Alhoewel ek vandag geestelik op ‘n goeie plek is, was dit nie so drie en ‘n half jaar gelede toe ek met motorneuron-siekte gediagnoseer is nie. Inteendeel, ek het baie onbeantwoorde vrae gehad en was verpletterd, dat ek nou ‘n siekte moes kry waarvoor daar geen genesing is nie!
Ek het onwillekeurig aan Jesus se woorde gedink in die gelykenis waar twee mense elkeen ‘n huis gebou het. Een het op sand gebou en die ander op rots.
Ons weet wat elke huis simboliseer, maar wat ons nie raaksien nie, is dat die storms ook teen die huis op die rots gewoed het, maar dat hy bly staan het!
Ek is nie so spesiaal dat ek die storms gespaar sal bly nie. Tog het ek baie om voor dankbaar te wees, soos die moderne tegnologie wat dit moontlik maak om hierdie briefie aan julle te skryf.
Die siekte sny motoriese kommunikasie tussen jou brein en die res van jou liggaam af, maar jou verstand en sintuie bly normaal. Jy raak dus stadig heeltemal verlam, met die verskil dat jy ook nie kan praat nie!
Wreed?
Ek dink nie so nie, want ek ervaar geen pyn nie.
Verdien ek dit?
Nee, beslis nie! Ek verdien baie erger! My Redder het dit wat ek verdien in my plek verdra…onskuldig.
Vriende, indien ek iets by julle mag los, is dit om nie ‘n té hoë premie op die aardse lewe te plaas nie, want dit is maar ‘n fraksie van waar jy die ewigheid gaan deurbring.
Shalom, tot ons weer ontmoet.
Kobus Vorster.



