Opvolg: Pelser verdwyn in die nag
Johann Pelser, die man vir wie vele mense die mes in het omdat hy hulle geld skuld, het verdwyn!
Bure het vertel dat ’n trok, met ’n Limpopo registrasienommer, sy trek Vrydagaand opgelaai het.
Die Observer het die afgelope drie weke berig oor Pelser se probleme.
Een van dié mense, mnr. Japie Jonker, het selfs sover gegaan om ’n voertuigdiefstalklagte by die polisie te maak. Dit gaan oor ’n trekker, ’n Mahindra en ’n Landcruiser (wat nog onder huurkoop is) waaraan mnr. Pelser moes werk. Mnr. Jonker het drie weke gelede slegs die
Landcruiser se bakwerk by paneelkloppers gekry. Die Mahindra is deur ander paneelkloppers verkoop vir stoorgeld en die trekker het sy eie verhaal van ’n ruiltransaksie wat skeefgeloop het.
Vele mense het ná mnr. Jonker na vore gekom met bewerings, waarop mnr. Pelser geduldig geantwoord het. Hy het later selfs erken dat hy in 2002/2003 op Heidelberg skuldig gepleit het op onder andere klagtes van bedrog en diefstal. Twaalf ander klagtes is teruggetrek.
Tydens verlede week se onderhoud was hy baie opgewonde en gesê dat hy “uiteindelik dié kans in my lewe gekry het waarvoor ek gewag het!” Hy het genoem dat hy ’n vaste werk gekry het.
Ondersoek: Vele kla oor Johan Pelser.
Op die vraag of hy as dieselwerktuigkundige gaan werk, was sy antwoord “nee”. Daar is ook gevra of hy van plan is om die mense wat hy geld skuld, terug te betaal, waarop hy plegtig “ja” geantwoord het.
• Mnr. Pelser het aan sommige mense gesê dat hy werk op Tzaneen gekry het en vir ander dat hy nou in Botswana is.
• Mnr. Pelser het die Observer gekontak en beweer dat hy wel in Botswana is. Hy wou egter nie verder verduidelik nie en net gemeld dat hy op 1 Desember daar begin werk het. Hy verhuur tans sy huis.



