Dennesig, Kanonkop kragloos in die weer
Inwoners van Kanonkop en Dennesig is raadop met die kragnetwerk wat afskop sodra die weer opsteek.
Saterdag 29 Desember was die krag twee maal af weens swaar weer, en Sondagmiddag is die woonbuurte weer ‘n uur lank in donkerte gehul, terwyl hulle ook onderwerp was aan beurtkrag.
Waar ander woonbuurte net twee ure sonder krag was Saterdag, moes Kanonkop en Dennesig inwoners meer as vier ure lank daarsonder.
Mnr. Jaco Carelzen, sê inwoners moet speletjiesaande reël om van die frustrasie ontslae te raak – “ons kom by mekaar sodra die weer opsteek,” stel hy voor.
Me. Desireé Conradie, sê “klokslag, nee weerslag, dan groet die krag,” maar sy gee toe, dat inwoners nou al so gewoond is aan die konstante uitdoffings, dat almal al weet wat om te verwag.
Die munisipaliteit stuur deesdae, minstens ‘n halfuur voor beurtkrag aan inwoners boodskappe uit, met die tye wanneer die krag sal afgaan.
Die weer is egter nie so voorspelbaar nie.Volgens die DA raadslid, mnr. Hennie Niemann, is hy ingelig dat ‘n stroombreker nie behoorlik sluit nie, en kortsluitings veroorsaak sodra ‘n verhoogde stroom die substasie tref.
“Dit gebeur uiteraard geduerende die swaar donderstorms wat ons die naweek ervaar het,” sê hy.
Die Observer wou bevestiging by die elektrisiteisbestuurder, mnr. Thabo Manko hê, maar hy wou bloot sê dat die ware oorsaak eers opgespoor sal word, noudat die weer gaan lê het.
“Gedurende die storms kan net die nodigste werk gedoen word, opvolgwerk is in kalmer weer nodig om die ware oorsake vas te stel,” meen hy.
‘n Verslag oor die naweek se gebeure by die substasie is Maandag aan hom oorhandig, maar hy het ‘n opvolgondersoek gelas.
Hy wou nie die probleem toeskryf aan ‘n stroombreker nie, “omdat ek nie weet of die stroombreker alleen hiervoor verantwoordelik is nie”.
Hy het plegtig belowe om na die Observer toe terug te kom, sodra hy agter die kap van die byl kon kom.
Die Observer het betroubaar verneem dat ‘n spesialis teen die week ingebring sou word om die fout te help soek.
Die fout lê nié by ‘n stroombreker nie, maar by die proteksiekabel wat afskop, sodra daar ‘n variasie op die toevoer is.
Die probleem kon dalk beredder word met die Langstraat substasie, wat Sipreslaan voer, saam met die Verdoornstraat substasie.
Dié ringtoevoer is egter gebreek weens opgradering aan die Langstraat substasie, wat daartoe lei dat die Verdoornstraat substasie nou die enigste toevoer na Sipres is.
Die proteksiekabel werk identies soos ‘n huis se aardkabel, om elektriese skokke te vermy, en toerusting te beskerm.
Daar is ‘n driejaar onderhoudsplan op die kabels, en die spesialis is reeds ontbied om te kom vasstel wat presies die proteksiekabel laat uitskop.
Die proteksiekabel, werk soos hy moet werk, maar as die die oorsaak van die probleem nie opgepoor word nie, loop die dorp ‘n risiko om van die kabels en toerusting te verloor, wat dan ten duurste ingevoer sal moet word, en tot langer kragonderbrekings mag lei.



