Inbrekers stroop huis
Inbrekers het meer as R100 000 se skade by 'n huis in Gholfsig aangerig, nadat die huis vir net drie dae leeg gestaan het.
Mnr. Frikkie van Niekerk was ontsteld toe hy deur ‘n eiendomsagent in kennis gestel is dat “die water soos ‘n rivier uit my huis loop.”
Die Van Niekerks verhuur al vir drie jaar hul huis in Langenhovenstraat en sê dat die huurder verlede week “soos ‘n dief in die nag verdwyn het.”
Die inbrekers het deur die dak ingebreek en buiten die plafonne, alles stukkend gebreek in die badkamers en die huis om by koperpype uit te kom.
Dit het veroorsaak dat water die hele huis oorstroom en by die voordeur uitgeloop het.
Mnr. Van Niekerk moes vanaf die Venetia Myn (anderkant Alldays), waar hy tans werk, jaag om na die skade te kom kyk.
Buiten alles wat uitgebreek is, het die water ook geweldig skade aan kaste aangerig.
Hy het aangedui dat hy die laaste huurder verantwoordelik gaan hou vir die tuin wat in so ‘n haglike toestand is, asook die skade wat aan die huis aangerig is.
• Die Van Niekerks doen ‘n beroep op enige ooggetuies van die gebeure om hulle te bel by 083 988 7460 (Cindy-Anne) of 060 571 6777.










