Pasop! Hulle steel blitsig
Skelm vroue doen hulle nie meer voor as huiskopers nie, maar as kliënte en steel helder oordag by besighede.
Twee besighede het binne twee dae deurgeloop en tydens een van die voorvalle was die dief se vrou swanger!
Me. Mia Kriel (van Inhaca Dagspa in Hoopstraat) vertel dat daar verlede Woensdag ‘n man en ‘n swanger vrou ingekom het.
Die vrou het dadelik ‘n klomp vrae aan drie van die terapeute gevra en op ‘n stadium ook vir water gevra.
Een van die terapeute, Angelique van Niekerk, het op die bank gesit en die man het hom tot haar gewend. Hy het ook vir water gevra, maar gesê dat hy warm water soek, want hy het asma.
Me. Van Niekerk het die water gaan haal en hy het agter haar aangedrentel. Sy swanger vrou het baie geïmponeer geklink met die dienste wat hulle aanbied en selfs ‘n afspraak gemaak vir later die middag. Sy het deurentyd die drie terapeute besig gehou.
Toe die twee weg is, het me. Van Niekerk agtergekom haar selfoon, ‘n Galaxy S5, is gesteel en, nodeloos om te sê, die swanger vrou het nooit opgedaag vir haar afspraak nie.
• Net om die hoek in Beyers Naudéstraat, agter die polisiestasie, is daar ‘n paar besighede in ‘n ou praghuis.
Me. Melanie du Toit sê hulle kan steeds nie glo dat die twee goedgeklede vroue, wat boonop ‘n naelafspraak gemaak het, so blitsig kon steel nie.
Daar is ‘n paar besighede saam met die restaurant, Van Toeka tot Nou, in die huis.
Me. Du Toit sê hulle het almal buite gesit en eet toe die twee vroue ingestap kom. Hulle was baie geïnteresseerd in die verskillende winkeltjies en het selfs ‘n naelafspraak gemaak met een van die tegnikuste. Toe daar vir die kliënt se selnommer gevra word, het sy gesê dat sy nie haar selnommer uitgee nie.
Een van die vroue het ingegaan by Karbinna Kostuum Verhurings en gevra waar die badkamer is, waarop mnr. PG Kruger (winkelassistent) haar gewys het waar dit is.
Minute nadat die twee vroue weg is, het mnr. Kruger agtergekom dat sy skootrekenaar, wat onder die tafel in ‘n sak was, gesteel is. Me. Du Toit het kort hierna gesien dat haar kasregister, waarin sowat R700 kontant was, ook leeg is.
“Toe ek die eerste keer in my lewe die sleutel in die kasregister los, toe vat hulle hul kans!”
Niemand het enigiets verdags agtergekom nie en me. Du Toit sê hulle vermoed dat die vroue moontlik dalk hul steelwerk gedoen het, deur hulle dop te hou en vanaf ‘n agterdeur die geld en die skootrekenaar te gaps.
Iemand het later onthou dat daar ‘n man in die kar vir die twee vroue gesit en wag het. Daar is egter nie daaraan gedink om die registrasienommer te vat of om op te let, wat die kleur van die kar is nie. Hulle dink dit was ‘n ou model donkerkleurige (soos donkergroen of -grys) Camry.
“Die huis is hier reg agter die polisiestasie en net twee huise vanaf die hof. ‘n Mens dink nie dat so iets hier sal gebeur nie!”
• In die laaste paar jaar was daar verskeie voorvalle by huise waar vroue hulle voorgedoen het as huiskopers. Een hou die huishulp of huiseienaar besig, terwyl die ander een vir die badkamer vra. Wanneer die vroue weg is, word dan gewoonlik duisende rande se juwele, skootrekenaars en selfone vermis. In al dié gevalle was die vroue goed geklee en het groot handsakke gedra. Daar is ook altyd ‘n man wat in ‘n voertuig wag.



