Video: Insleepoorlog
'n Geveg het tussen lede van twee insleepdienste uitgebreek, waartydens een met 'n skokstok geskok en met 'n skroewedraaier gekrap en die ander een se oogbank oopgeslaan is.
“Ek wil hulle doodsteek! Ek is moeg vir die politiek in Middelburg. Hulle dink hulle besit Middelburg!” het mnr. Japie Lensley (van SAMA Insleepdienste) na die gebeure uitgeroep.
Die geveg het plaasgevind voor Fridge Worx, sake-onderneming van mnr. Thomas Pienaar (wat ook die eienaar is van ABA Insleepdienste). Beide mnre. Lensley en Jan Pienaar (van ABA Insleepdienste) is Maandag hof toe, nadat hulle teen mekaar klagtes aanhangig gemaak het. Mnr. Pienaar het ‘n klagte van poging tot moord geopen en mnr. Lensley ‘n teenklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die twee het verskillende weergawes van die gebeure.
Volgens mnr. Thomas Pienaar het mnr. Lensley se vrou, Elizabeth, die oggend ingestorm by Fridge Worx, waar hy en sy seun, Jan, besig was om te werk.
“Sy het hier ingestorm en gevra: ‘Is jy Jan Pienaar? Nou gaan jy k..k!” Sy het die bewering gemaak dat mnr. Pienaar hulle aangegee het by die stadsraad omdat hulle voertuie in hul erf het.
Jan het dit ontken en saam uitgestap na buite. Volgens hom wou hy kyk na ‘n enjinnommer, aangesien hulle vermoed dat ‘n enjin wat aan hulle behoort, in mnr. Lensley se insleepvoertuig is.
Jan beweer hy was nog langs die voertuig, toe me. Lensley ‘n skokstok uitpluk en hom daarmee begin skok. Hy het dit uit haar hande geruk, maar op daardie stadium het mnr. Lensley uit die voertuig uitgespring met ‘n skerpgemaakte skroewedraaier.
Volgens Jan het mnr. Lensley hom verskeie kere raakgekrap en vleiswonde toegedien, soos hy na hom gesteek het. Hy sê hy het uit selfverdeding mnr. Lensley geslaan, sodat die skroewedraaier nie sy long kon binnedring nie.
Mnr. en me. Lensley het erken dat hulle die Pienaars gaan konfronteer het, nadat hulle ‘n kennisgewing van die stadsraad gekry het.
“Jan het die deur oopgepluk en my ‘n hoer en ‘n vet slet genoem! Toe ek hom met die skokstok skok, het hy my teen die kop geslaan,” het me. Lensley ontstoke gesê. Sy het aangedui dat sy ‘n klagte van naamskending teen mnr. Jan Pienaar aanhangig gaan maak.
Mnr. Lensley sê hy het die skroewedraaier uitgepluk om sy vrou te beskerm. Hy beweer dat hy mnr. Pienaar “nie eers raakgesteek het nie!”
• Mnr. Peet Roos (‘n werknemer van ABA Insleepdienste) het Vrydagmiddag gesê dat mnr. Lensley hom Vrydagoggend (voor die gebeure met die Pienaars) ook gedreig het.
“Ek het in my insleepvoertuig gesit by die Sasol Motorhawe. Die volgende oomblik het mnr. Lensley langs my gestop en gesê: “Ek sal julle wys wat gebeur! Ek sal seker maak julle word gebêre!” Mnr. Roos sê hy was so oorbluf dat hy nie ‘n woord kon uitkry nie.



