Linte van bome gesteel
Diewe het agt bome se pienk baadjies afgesteel. Me. Ena van den Berg (53) was geskok toe sy sien dat agt van die bome se pienk linte buite haar erf in Weeberstraat afgesteel is.
“Ek was so geskok. Ek het dit Dinsdag opgesit en die volgende dag was dit weg,” sê me.Van den Berg. Sy woon op die hoek van Weeber- en Viljoenstraat en het die hele hoek se bome versier.
Volgens me. Van den Berg is slegs die linte in Weeberstraat afgesteel.
“Ek het Woensdagoggend hier uitgery, toe dink ek nog, dit lyk nou mooi,” vertel sy moedeloos. Maar met haar terugkoms by die huis moes sy na ‘n klomp leë bome staar. Haar tuinwerker, mnr. Jacky Sibanyoni (42) het die linte vir haar opgesit.
“Ek het nie soos ander mense net die helfte hoeveelheid lint opgesit nie, maar die volle 1.4 meter, omdat dit vir ‘n goeie doel gaan.” Van die bome moes sy met tot soveel as 1.8 meter materiaal toedraai omdat die stamme dikker is.
“Ek het doelbewus baie opgesit, want die bome groei so dig in ons straat, jy moet self kom sien hoe mooi lyk dit,” het me.Van den Berg tydens die telefoniese onderhoud gesê. Die totale skade van die materiaal wat afgesteel is, beloop R400.
• Pink Trees for Pauline is ‘n projek wat plaaslike kankerpasiënte ondersteun. Die pienk materiaal kos R20 per meter en kan by die Ninfa Tuinsentrum (Cowen Ntulistraat), CMR in Pleinstraat of Kumon in Lilian Ngoyistraat aangekoop word.
Bel Leigh Brandmuller by 082 800 2255, Jacolien de Kock by 072 282 7962, Janet du Preez 083 976 0890 of Madelise Leathes by 072 620 5765 vir meer inligting.



