Local newsNews

Mpho bedel al maande

Hy noem homself 'Mpho Sibinde' en hy verkies om Afrikaans te praat, maar wat is die ware verhaal agter die skraal seun wat elke dag op die hoeke van Sondagsrivierstraat en Mandela rylaan staan en bedel.

Waar kom hy vandaan? Hoekom is hy nie in die skool nie? Hoe oud is hy? Het hy darem ‘n warm bed om in te slaap? Dit is maar net ‘n paar van die talle vrae wat mense vra oor die seun.

Honderde mense ry daagliks dié pad na die Middelburg Mall en wonder oor die kind wat nie skooltoe gaan nie.

Klokslag elke oggend staan hy by die verkeerslig, polistireen glasie in die hand en vyfuur verdwyn hy net so vinnig as wat hy gekom het.

Bouers in die omgewing sê hulle sien hom al vir maande daar bedel.

Mpho praat saggies, so al of hy bang is dat iemand hom gaan hoor.

Mpho weerspreek hom verskeie kere, wat ‘n mens dadelik laat vermoed dat dit wat hy vertel nie heeltemal die waarheid kan wees nie.

Volgens hom is sy ma twee jaar gelede oorlede. Hy is baie vaag oor sy pa. Al wat hy oor hom vertel, is dat hy “van Nasaret is” en “ons gelos het toe ek 10 jaar oud was.”

Hy hou vol hy is 16 jaar oud, maar hy lyk heelwat jonger. Op die vraag waarom hy nie skooltoe gaan nie, sê hy net: “ek was nog nooit in ‘n skool nie.”

Mpho wil nie uitbrei oor waar hy bly nie. Hy sê hy bly saam met sy 26-jarige broer in Uitbreiding 2. Sy broer werk in ‘n tuin vir ‘n ekstra inkomste.

Die glasie het net ‘n paar muntstukke in en Mpho sê daarmee koop hy soms “by die Mall ‘n pakkie vleis en brood en eiers.”
Hy is duidelik daaroor dat hy nie by vreemde mense wil bly nie.

• Volgens me. Margaret Siebert (van die CMR) het hulle al verskeie kere die seun ondervra. Hy weier volstrek om vir hulle te sê waar hy bly.

Sy sê dit maak die werk van die maatskaplike werkers baie moeilik, want hulle sal graag sy familie wil opspoor.

Naby die verkeerslig waar Mpho bedel, is daar ‘n murasie en hulle vermoed dat hy saam met ander haweloses daar bly.

• Me. Bernice Mostert (Suid-Afrikaanse Vroue Federasie) sê hul maatskaplike kantoor het ook al met die seun gepraat. Vir hulle het hy gesê dat hy in Tokologo bly. Hy het egter nog nooit vir een van hulle ‘n adres verskaf nie.

• Lees elders wat ‘n sakeman by die Middelburg Mall onlangs gesien het na Mpho se bedeldag .

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button