Local newsNews

Van top makelaar na bedelaar

Oud Trust Bank top makelaar en bekende inwoner is onder verdagte omstandighede by 'n huis vir haweloses in Vastfontein, Pretoria, oorlede.

Johan Dreyer (65) was op sy dag een van die top drie gholfspelers by die Middelburg Buiteklub en ‘n man wat met ander se geldsake gewerk het. Hy het op sy ou dag, soos sy Trust Bank kollega, Ronnie Clarke, op straat beland.

“Hy was nie haweloos nie. Hy het hier by ons gebly. En hy was my blue-eyed boy,” sê Daan Lensley, die opsigter by Maranata Sorgsentrum.

Hy het mnr. Dreyer sowat ses jaar gelede leer ken toe hy sy intrek by Maranata gekry het en hulle het sommer dadelik “gekliek.”

Buiten vir sy drankprobleem was mnr. Dreyer ‘n indrukwekkende mens wat diep in die harte van die mense by Maranata gekruip het.

“Hy was pynlik netjies. Hy sou nie eers op ‘n vuil stoel sit sonder om dit af te vee nie. Dit was net die gedrinkery…” sê mnr. Lensley.

Dit is juis kort na so drinksessie wat mnr. Dreyer sy laaste asem uitgeblaas het.

Johan Dreyer is onder verdagte omstandighede by die Maranata Sorgsentrum oorlede.
Johan Dreyer is onder verdagte omstandighede by die Maranata Sorgsentrum oorlede.

Mnr. Lensley sê dat mnr. Dreyer en nog ‘n Maranata inwoner, net bekend as Charles, skelm gaan drink het. Charles het alleen teruggekom. Toe hulle hom uitvra oor mnr. Dreyer het hy gesê dat hy geval het en deur die ambulans hospitaal toe gevat is.

Hy het die volgende dag by Maranata aangekom nadat hy uit die Steve Biko hospitaal weggeloop het.

“Hy het baie sleg gelyk. Sy bolyf het snye op gehad en hy het ‘n ernstige kopwond gehad,” sê mnr. Lensley.

Hulle het hom die volgende oggend dood aangetref in die badkamer. Die lyksbesorger het geweier om die lyk te verwyder oor al die merke daarop en die Hammanskraal Polisie is ingeroep.

“Hulle het verklarings kom afneem, maar die ondersoekbeampte self was nog nie eers hier nie, so ek weet nie hoe ernstig hulle oor die saak is nie.”

Twee dae na mnr. Dreyer se dood is Charles weg. Hy werk nou vir ‘n ander sorgsentrum met die naam Dankie.

“Charles was nie eers op die begrafnis nie,” sê mnr. Lensley.

Charles, wat dikwels by die Lilian Ngoyi- en Cowen Ntulistraat verkeerslig staan, het aan die Middelburg Observer erken dat hy vir mnr. Dreyer geken het. Hy het gesê dat mnr. Dreyer homself “dood gedrink het. En dat ‘n “gebarste lewer” die oorsaak van sy dood was.

Mnr. Dreyer se dogter, Belinda, sê dat haar pa uit vrye keuse by die Maranata Sorgsentrum gebly het.

“Hy kon enige tyd by my kom bly, maar hy het verkies om daar te bly en geld in te samel vir die mense wat dit nodig het.”

Sy sê dat die lewe sy rug op mnr. Dreyer gedraai het nadat sy makelaarsbesigheid, wat hy saam met vriende gestig het, bankrot gespeel het.

“Hy het hard probeer, hy het ‘n carwash bestuur en ‘n plaas, tot hy by die plekkie uitgekom het, toe wil hy net die mensies wat daar bly help.”

Mnr. Dreyer en sy broer Tom, het op ‘n stadium saam by Maranata gebly en geld ingesamel. Tom is vier jaar gelede oorlede.

• Die Hammanskraal polisiewoord-voerder het nie voor druktyd op boodskappe gereageer om lig te werp op die stand van die geregtelike doodsondersoek nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button