Susan Grimbeeck swerf steeds rond en sy is terug op Middelburg. Sy soek na haar rooi kar wat sy meer as ’n jaar gelede in Elandslaagte, KwaZulu Natal, gelos het nadat dit onklaar geraak het.
Sy sê dat ’n polisieman destyds vir haar gesê het dat ’n kollega van hom die kar sal regmaak.
“Toe los hulle my daar alleen by die polisiestasie en ry. Toe stap ek maar.”
Sy het later verneem dat haar voertuig na Middelburg gesleep is. Maar niemand hier weet iets van die voertuig af nie.
“Iemand ‘stoor’ hom êrens.”
Sy sê dat sy bitter graag haar kar wil terug hê sodat sy kan ophou swerf.
“Almal wil hê ek moet ’n nuwe begin maak. Maar hoe? Hoe maak mens ’n nuwe begin?”
Sy vermoed dat daar geld in haar bankrekening is wat haar oorlede pa aan haar agtergelaat het. Sy sukkel egter om ’n nuwe bankkaart te kry.
“By die bank sê hulle vir my die rekening is toegemaak. Maar ek weet daar was nog geld in.”
Van die Observer se kantore stap Susan polisiestasie toe. As jy haar vra waar jy haar in die hande kan kry sê sy: “Ek gaan die dag by die polisiestasie spandeer, van daar af sal ek maar sien.” ’n Selfoon het sy maar nie ’n simkaart nie.
“Daai kar sal eers uitkom as ek klaar geloop het. Dit is dieselfde met my bankkaart”…en dan is Susan weer weg.
•Susan het vir maande in die kar gelewe reg voor die Polisiestasie. Sy het daarna verdwyn en is later by die Botswana grenspos in gehawende toestand gekry.
•Daar is gesê Susan dat se eksentrieke lewenswyse is omdat sy vir haar pa, Chris, “wag” nadat hy in die Midmed Hospitaal oorlede is. Nog ’n rede is dat sy in haar Pretoriase huis aangeval is.



