Local newsNews

Swaarkry? Die Gat?

"Sy bedel vir kos en huurgeld, maar dan gaan sit sy by Die Gat die geld en uitdrink."

So sê ‘n anonieme bron wat beweer dat hy me. Liz Dannhauser Vrydagaand by Die Gat saam met haar seun gesien het.

Die Observer het verlede week berig oor die Dannhauser egpaar, Nicolaas en Liz. Mnr. Dannhauser het ‘n paar jaar gelede sy been verloor en het Desember ook ‘n beroerte gehad.

Me. Dannhauser het gesê dat sy sukkel om liggaam en siel aan die lewe te hou omdat sy haar werk “weens personeelvermindering” verloor het.

‘n Man het kort nadat die berig verskyn het na vore gekom en gesê dat hy me. Dannhauser en haar seun Vrydagaand by Die Gat tot laatnag sien drink het.

Hy is van mening dat hulle daardie geld kon gebruik om haar agterstallige huurgeld te betaal.

Volgens hom het sy ook nie haar werk verloor weens personeelvermindering nie.

“Sy het haar werk verloor omdat sy geld gesteel het! Dit is ‘n klomp agterbakse en skelm mense wat die kerke, gemeenskap en welsyn uitbuit!”

By navraag aan me. Dannhauser se vorige werkgewer (wat anoniem wil bly om haar besigheid te beskerm) het sy gesê dat sy “nie ‘n hond skop wat lê nie.

Liz het sewe jaar by my gewerk en sy het uitstekende werk gedoen. Ja, sy is skuldig bevind vroeër vanjaar omdat sy geld gevat het, maar sy was in die nood omdat sy net niks meer gehad het nie.

As jy nie in iemand se skoene geloop het nie, kan jy niks sê nie! Weens die aard van my besigheid kon ek haar egter nie verder aanhou nie. Liz kry swaar. Sy is ál een wat nog probeer. Mense moet nie klippe gooi nie.”

• Me. Dannhauser se antwoord op die bewering dat sy gedrink het by Die Gat, is dat sy haar “seun gaan haal het. Hy het met iemand daar gepraat en ek het by die vuurtjie gestaan en wag vir hom. Ek het by die vuur gestaan en ‘n glas water gedrink! Dit is hierdie familie wat nou weer moeilikheid wil maak.” Na aanleiding van die gesprek was dit duidelik dat daar ‘n erge familietwis is en me. Dannhauser sê die man wat die Observer gekontak het “het gedreig dat hy goed vir die koerant gaan sê.”

Sy het erken dat sy geld by die besigheid waar sy gewerk het, gevat het “vir petrolgeld om by Nicolaas te gaan kuier.

Ek was besig om die geld in paaiemente terug te sit, toe hulle dit agtergekom het.”

Me. Dannhaser is hierdie week ook uitgeskop by die kamer waar sy gebly het en word tydelik in Eastdene deur mense gehelp.

In ‘n sms het sy gesê dat sy “‘n bietjie kos en ‘n paar rand by mense gekry het.” Mnr. Dannhauser is steeds in die rehabilitasiesentrum en sal binnekort huistoe kan gaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button