Local newsNews

Egpaar verloor alles

Eers was hy in 'n ongeluk, toe verloor hy sy been en nou sal hy waarskynlik nooit weer kan werk nadat dié vyftigjarige man ook beroerte gehad het nie.

“Ek is desperaat. Ek kan net nie meer nie,” het me. Liz Dannhauser verlede week met trane in haar oë gesê.

Haar man, Nicolaas, het nog liggaam en siel aanmekaar gehou met kontrakwerkies, maar dit is ook nou daarmee heen.

Hy is in ‘n rehabilitasiesen-trum nadat hy in Desember ‘n beroerte gehad het.

Soos menige gesinne was hulle ‘n paar jaar gelede nog op die kruin van geluk. ‘n Ongeluk het alles verander.

Sowat sewe jaar gelede was mnr. Dannhauser in ‘n motorfietsongeluk. Maande later moes sy been geamputeer word.

Hulle het dr. Anton de Munnik verkla by die mediese raad na die operasie, maar het ná ses jaar die saak verloor weens onvoldoende getuienis.

Hul prokureur, mnr. Helgaard du Preez, het bevestig dat ‘n siviele aksie op 21 November vanjaar in die Pretoriase Hooggeregshof voortgaan.

Mnr. Du Preez het gemeld dat weens mnr. Dannhauser se toestand, is hulle tans besig om ‘n kurator aan te stel wat namens hom sal optree.

Me. Dannhauser sê sedert haar man die beroerte gehad het, leef sy baie swaar.

Sy bly in ‘n kamer agter ‘n besigheid in die industriële gebied en is uiters paniekerig, aangesien sy dié maand nie haar huur sal kan betaal nie.

Sy het onlangs weens personeel-vermindering ook haar werk verloor.

“Ek bly aan die lewe deur my laaste paar goedjies en sleutelringetjies te verkoop. Ek kan nie nie nou dadelik gaan werk nie, want ek moet kort-kort Pretoria toe om te gaan kyk hoe dit met Nicolaas gaan. As hy een van die dae ontslaan word, moet ek hom 24 uur versorg. Wat gaan dan van ons word? Ek kan hom nie straat toe vat nie!” het sy snikkend gesê.

• Persone wat die egpaar op enige manier wil ondersteun, kan me. Dannhauser bel by 071 109 3958.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button