Karatekid keer vir messteek
'n Skraal vyftienjarige leerling van HTS Middelburg het met 'n karatehou gekeer dat 'n rower hom nie met 'n mes steek nie.
Devan Bisschoff sê hy het omstreeks 12:25 opgeloop in Maroelastraat (Kanonkop) en op ‘n stadium agtergekom dat ‘n ander man aan die oorkant van die pad redelik vinnig in dieselfde rigting loop.
Toe hy binne hoorafstand vanaf Devan was, het Devan gehoor dat die man vra of hy nie vir hom R5 het nie.
Devan het vir hom gesê hy het nie geld by hom nie en vinniger geloop.
Hy het nie weer in die rigting van die man gekyk nie, verder gestap en met sy oorfone via sy selfoon (wat in sy sak was) musiek geluister.
Die volgende oomblik het die man op hom afgestorm, en dreigend sy selfoon geëis.

“Hy het gesê hy gaan my doodmaak en aan my sak begin ruk.” Op hierdie selfde oomblik het Devan die okapi-mes in sy hand gesien.
Devan het besef hy gaan hom in sy sy steek en het blitsig gereageer.
Met ‘n vernuftige karatehou het hy sy lyf beskerm en in die proses die mes uit die man se hand geslaan.
Devan kon net sy regterhand gebruik om die mes weg te slaan, aangesien hy met sy linkerhand nog probeer keer het dat die rower die selfoon uit sy sak ruk,
Dit het nie die booswig ondergekry nie en hy het Devan teruggestamp, rondgeruk en hard op die grond neergegooi. Met Devan se selfoon in sy hand het hy begin weghardloop.
Terwyl hy aanmekaar skree: “Help! Help!” het Devan opgespring, die rower agternagesit en platgeduik. Teen hierdie tyd het mense al by hul huise uitgekom en mans het aangehardloop gekom om die seun te help.
Die Kanonkop/Dennesig/Middedorp Radiogroep het ook opgedaag en die rower is met ‘n tou vasgemaak tot die polisie hom kon arresteer.
Met deursoeking van die verdagte is daar ook ‘n hamer in sy broeksak gevind.

Devan sien homself nie as ‘n held nie. “Ek het net reageer toe hy die mes teen my hou.” Hy het ‘n pers gordel in karate en is lid van die Goju Ryu Seiwakai Karateklub.
• Volgens Devan is dit al die derde keer hierdie jaar dat hy die slagoffer is van rowers. Vroeër vanjaar het twee booswigte hom naby die OK Grocer in Mineralia oorval en sy selfoon geroof. Net vier dae later het twee rowers op hom en een van sy twee vriende afgestorm en met ‘n mes na hom gekap. Devan sê sy vriend het hom net betyds weggeruk en die meslem het sy vinger getref.
• Ali Mokoena (22, van Thoyandou, Venda, Limpopo) het Dinsdagoggend in die hof op ‘n roofklagte verskyn na aanleiding van die voorval.



