Local newsNewsUpdate

Opvolg: Toer kos span nou R836 354

'n Reisagent het in die laaste paar maande R543 068 by mense gevat, maar nooit hul vakansies betaal nie!

Die Roosters rugbytoergroep se toer na Phuket het hulle vanjaar R836 354 uit die sak gejaag, omdat die reisagent, me. Chantel Cloete, nooit hulle bespreking betaal het nie.

Die ink was verlede week nog nie droog op die Observer se blaaie nie, toe daar vasgestel is dat daar ‘n derde klagte teen me. Cloete (van Travel Exec) ondersoek word.

Die Gray-egpaar het klagtes gelê omdat hul wittebroodsvakansie na Thailand gekanselleer is en me. Deneys Collins het ‘n klagte verlede week geopen omdat haar vakansie na Turkye na die maan is.

Mnr. Carel Schutte het dié week bevestig dat hy op 17 Mei vanjaar ‘n saak geopen het by die Kriel polisiestasie toe hy verneem dat me. Cloete nie vir hul toer bespreek het nie.

Mnr. Schutte sê me. Cloete het al vyf hul vorige toere na Phuket bespreek toe sy nog by ‘n bekende reisagentskap gewerk het “en daar was nooit probleme nie.”

Dit is hoekom hulle laat verlede jaar besluit het om wéér van haar dienste gebruik te maak, al was sy toe reeds ‘n privaat reisagentskap.

Mnr. Schutte sê die groep het bestaan uit 44 mense (spelers, afrigters, spanbestuurders en spelers se eggenote) wat na Phuket sou vlieg vir die jaarlikse internasionale 10-man Tense toernooi.

Hy het sedert September verlede jaar deposito’s aan me. Cloete begin oorbetaal. Daar was bedrae vanaf R50 000.

Die laaste geld is middel April oorbetaal en die totale bedrag was R416 776. Daar is gevra vir ‘n bespreking vir 17 Mei vir die mans en 19 Mei vir die vrouens.

Mnr. Schutte het begin bekommerd raak toe hulle sowat twee weke voor die beplande vlugte nog nie E-kaartjies (om geld om te ruil) gekry het nie.

“Ek het haar gebel, maar sy het my gerusgestel. Haar woorde was: ‘oom Carel, ek sal oom nooit skade aandoen nie. Alles is in plek.”

‘n Week voor die toer “het ek erg gestres, want ek het gehoor wat met die Gray-egpaar gebeur het en ek het self Thai Air gebel. Die toer is bespreek, maar die geld vir die toer is nooit oorbetaal nie!”

Mnr. Schutte was woedend en het me. Cloete weer gekontak.

Sy het emosioneel voorgestel dat sy hulle R1 000 per maand terugbetaal. Hy het dit van die hand gewys en dadelik ‘n saak by die polisie op Kriel gaan open.

Die span kon nie op hierdie kort kennisgewing onttrek aan die toernooi nie en daar is ‘n noodvergadering gehou.

‘n Boer (wat op die komitee dien) het aangebied om die geld vir die span te leen.

“Ons moes wéér elkeen R9 536 vir vliegkaartjies betaal. Maal dit met 44 en maak jou sommetjies!” het hy ontstoke oor die gebeure gesê. Die totale bedrag is R836 354. “Van die spelers werk nog nie eers nie en van hulle is vakleerlinge!

Hulle het klaar geld geleen vir die eerste bespreking. Nou het ons nóg meer skuld, omdat ons die boer moet terugbetaal!

Hoeveel gholfdae sal ons moet hou om dit alles te dek?”

Mnr. Schutte het aangedui dat hy met die speurhoof van Kriel ‘n afspraak gaan maak om te verneem wat met die ondersoek gebeur, aangesien hy nog nie terugvoer gekry het nie.

Me. Cloete wou hierdie week glad nie kommentaar lewer nadat die nuutste klagtes aan die lig gekom het nie.

Mnr. en me. Ivan en Chantelle Gray (van Kriel) sou in Mei vanjaar na Thailand vlieg en sê dat hulle R47 000 aan me. Cloete oorbetaal het vir hul wittebrood. Buiten strafregtelike klagtes, het hulle besluit om ook ‘n siviele aksie te begin. Me. Cloete het reeds in die hof op Evander verskyn in verband met hulle saak.

Me. Collins en haar dogter, Anelda, sou op 27 Junie na Turkye vlieg en hulle het R79 292 inbetaal. In hul geval het me. Cloete hulle R500 per maand terugbetaling aangebied, wat van die hand gewys is.

Die berig oor me. Cloete het ‘n hewige debat op die Middelburg Observer Facebookblad veroorsaak met onder andere ook ‘n oor en weer moddergooiery.

Aan die een kant was die mense wat voel sy “moet boet vir haar dade” en aan die ander kant dié wat sê “n mens moet nie klippe gooi nie.” Die Facebook kommentaar verskyn op bladsy vyftien.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button